Sondag 14 Desember (Derde Adventsondag/Gelofteviering) – Sy koms bring blydskap

Jesaja 61: 1-4 en 8-11

Op die derde Sondag van Advent word die Adventkers, wat vreugde of blydskap simboliseer, aangesteek. Die koms van Christus wek inderdaad blydskap en opgewondenheid by ons en vra vir uitbundige lofprysing ten spyte van ’n gebroke wêreld. Jesaja 61 verwoord iets van hierdie vreugde en verkondig die blye boodskap dat die dag van die Here naby is, ’n Dag wanneer droefheid in vreugde verander gaan word, en hartseer in blydskap. Die troos wat hier vir gebrokenes aangekondig word, is ’n Goddelike troos, dit maak ’n daadwerklike verskil aan die mense én hul omstandighede. Dit was Israel ná die ballingskap: gebrokenes van hart. Hulle het in ballingskap na goeie nuus gesmag. Hulle het moontlik na hul land teruggekeer met drome van en hoop op ’n gelukkige en goeie lewe, maar die stede en dorpe was puinhope. Landboutoestande was ellendig. Goeie nuus het in leë drome verander.

Daarom stuur God sy profeet met ’n blye boodskap aan die mense in nood: ’n hartswoord. Hy sê: Ek is by julle; Ek sal ’n verskil maak aan jul nood. Dit is die bewoë God wat praat in Jesaja 61 en wat méns geword het in Jesus van Nasaret. God wat elke gebroke hart raaksien.

Hoe lyk die gebrokene van hart in jou lewe en omgewing? Hoe klink die woorde waarmee ons vertroos: Jy moet dit aanvaar en leer om daarmee saam te leef. Wat sê ons eintlik daarmee? Is dit geloofstaal? Daar is geen herstel en antwoord vir ’n krisis nie. Maar God sien elke gebrokene van hart en reageer met krag.

As daar een ding is wat Advent ons leer, wat ons moet leef en wat die kruis op Golgota nog duideliker sê, dan is dit: God aanvaar nié dat ons harte gebreek moet wees, dat ons platgeslaan moet word deur die lewe nie. God genees die stukkende hart, Hy tel die platgeslane mens weer op. Waag dit gerus om met blydskap in die Here te leef, want God bring genesing. God sien elke gebroke hart raak.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth

Saterdag 13 Desember – Dit gaan sleg met God se mense

Jesaja 62: 1-12 Dalk kom dit vir jou as ’n bietjie van ’n skok as jy hier lees dat dit sleg gaan met God se mense. Mense raak nie siek omdat hulle groter sondaars is as ander nie. Hulle kom nie ongelukke oor omdat hulle swakker gelowiges is nie. Die waarheid is: Ook...

read more

Donderdag 11 Desember – Leef in vreugde terwyl jy wag

Filippense 4: 2-9 Filippense 4 is waarskynlik een van die bekendste en mooiste tekste in die Bybel wat handel oor blydskap. Dit is tog jammer dat spanning binne die gemeente hierdie vreugde en blydskap steel. Euodia en Sintige is in onvrede met mekaar. Daarom vermaan...

read more

Dinsdag 9 Desember – Jou God is Koning

Jesaja 52: 7-12; Lukas 2: 8-14 Dit is wonderlik om weer die ou verhaal te hoor, die ou liedere te sing, en te hoor hoe die engel ons kom verseker van die vrede van God wat hierdie Kindjie bring. En tog is dit nie altyd maklik nie. Hoe praat jy oor vrede op aarde,...

read more

Maandag 8 Desember – Laat ons sing

Psalm 146: 5-10 Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! ’k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof. Ek wonder of jy al daar was? Daar waar jou lied van jou weggeneem is? Toe jou woorde en drome opgedroog het? Was jy al daar, of is jy...

read more