Geboorte – die begin van lyding

 

Lukas 2: 1-7

 

Het ons dalk ’n onvanpaste gedeelte gelees? Dis immers Lydenstyd en nie Kerstyd nie!

Nee, die deel is juis van pas, want ons tower soms die mooiste toneeltjies op oor Jesus se geboorte. Ons skep lieflike prentjies van ’n ideale atmosfeer in ’n rustige stal tussen nederige diere. Pragtig vir die Jesus-kind! Lukas vertel egter die verhaal anders. Hy vertel van ’n oorvol Betlehem. Die atmosfeer was gespanne en die mense oproerig. Hulle was ontevrede oor die oproep van die Romeinse owerheid vir ’n volksensus.

Dis in sulke omstandighede dat Josef en Maria Betlehem binnekom – moeg en vol stof. Daarby was Maria op die punt om geboorte te skenk. Die enigste plek wat hulle egter kry om te oornag, is in ’n stal. Daar is Jesus gebore. Hy is nie neergelê in ’n mooi bedjie wat sy timmermanpa vir Hom gemaak het nie. Ook nie toegedraai in ’n mooi kombersie wat Maria vir Hom gemaak het nie, maar in eenvoudige doeke. Jesus se lyding het dus nie eers in Getsemane of by sy verskyning voor Pilatus begin, en geëindig by Golgota of die graf van Josef van Arimatea nie. Sy hele lewe was vol lyding. Jesus ly sedert sy geboorte. Die feit dat Hy mens moes word, was klaar lyding. Mense het nie verstaan nie. Verder het mense van sy lewensweg ’n lydensweg gemaak.

Is dit vandag anders? Mense verstaan nie. Baie mense het in ons dae ook nie tyd of plek vir Jesus nie – nie in hul gedagtes of lewensuitkyk, besluite of handelinge nie. Johannes het dit so vertel: Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar dan voeg hy by: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Joh 1: 11 en 12). Hoe anders is die Here nie! Hy antwoord die mense se afsydigheid met liefde. Sy weg van lyding het ons weg van genade geword. Halleluja!

Ds Philip Prinsloo

Emeritus