Jesus verwelkom die ongenooide gas

 

Lukas 7: 36-50

 

Ons lees van ’n berugte vrou; ’n vrou wat ’n slegte, sondige lewe gelei het. Die Fariseër sou haar nooit in sy huis ingenooi het nie. Hy wou niks met haar te doen gehad het nie. Sy is onrein en hoort nie daar nie. Hy ken haar soort.

Sy plaas alles op die spel. Sy waag dit om ongenooid in te kom al is dit ongehoord. Sy waag dit dat haar sondes ontbloot sal word en dat sy uitgejaag of uitgegooi sal word. Meer nog, sy waag dit om na Jesus self te gaan en aan Hom te raak, want sy het ’n lewe wat reggestel moet word. Sy voel so oorweldig, sy kan nie praat nie. Sy huil net op sy voete en om haar verleentheid te verberg, droog sy dit af met haar hare. Dis asof – sonder ’n enkele woord – ’n hele gesprek tussen haar en Jesus plaasvind. Alles wat hulle vir mekaar wou sê, is gesê; wat hulle wou doen, is gedoen. In ’n daad van dankbare toewyding en liefde, soen sy sy voete en salf dit.

Die Fariseër verstaan glad nie wat hier tussen die vrou en Jesus gebeur nie. Maar Jesus verstaan. By Hom is daar dieselfde dringendheid. Hy het ook alles gewaag. Hy het uit die heerlikheid wat Hy saam met die Vader gehad het, aarde toe gekom. Gestroop van sy goddelike majesteit het Hy gekom na mense wat Hom nie genooi het nie. Hy het dit verduur om bespot en verneder te word, omdat Hy verlore sondaars kom soek het. Hy het sy lewe op die spel geplaas om vir iemand soos dié vrou te kan sê: Jou sondes is vergewe… jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Met sy menswording het Hy mense soos sy genooi: Kom na My toe…

As ons verlossing en vergifnis so ’n dringende saak vir ons is, as dit vir ons belangrik is dat ons met God versoen moet word, sal ons dit dan nie ook waag om so met ’n openlike eerlikheid en met hartlike vertroue by Hom om vergifnis te kom pleit nie? Hy vergeef nie min of baie sondes nie. Hy vergeef al ons sondes. Dis mos hoekom ons Hom liefhet.

Ds Philip Prinsloo

Emeritus