Blydskap op die lydensweg

 

Lukas 19: 1-10

 

Op pad na die hartseer lydensgebeure in Jerusalem, is daar hierdie stukkie heerlike blydskap: Die sondige Saggeus is oorstelp van blydskap oor die ommekeer in sy lewe. Hy is bly oor Jesus in sy huis; hy is bly omdat hy in sy lewe kon regmaak wat verkeerd was; hy is bly om vorentoe nuut te kan lewe; hy is bly omdat daar redding vir sy huis gekom het.

Jesus deel ook in Saggeus se blydskap. Trouens, dis ’n hemelse vreugde! Want, soos Jesus gesê het: Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer (Luk 15: 7). Daar lê vir die Heer groot vreugde in die vervulling van sy roeping.

Die omstanders, wat Saggeus geken het, was egter nie bly nie. Hulle was verontwaardig. Hulle gun nie vir Saggeus hierdie nuwe lewe nie. Hulle deel nie in Jesus se vreugde nie. In hul waan van eiegeregtigheid het hulle liefdeloos en veroordelend geword. Selfsugtig, het hulle geloofsvreugde net vir hulself toegeëien. Hul antwoord op ’n sondaar se bekering en op Jesus se verlossingswerk is net harde kritiek.

Dis maklik om skepties en krities eenkant te staan wanneer iemand tot geloof kom. Dan kyk ons vol afwagting om te sien wanneer die bekeerling weer gaan terugval na sy ou lewe. Dit sal mos bewys ons was reg! Dit sal nie hou nie, ons ken hom mos! Maar, dalk wys sy val juis dat ons totaal verkeerd was. Ons moes nie eenkant bly staan het nie. Ons moes in sy blydskap gedeel het. Ons moes bemoedig, en gebid en gelei het. Ons moes daar gewees het om op te help toe hy gestruikel het. Ons kritiek en liefdeloosheid het dalk ’n groot rol gespeel in sy terugval.

Na die gebeure in Jerigo het Jesus ongestoord aangeloop Jerusalem toe met die woorde: Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. Kom ons loop met die Heer saam op hierdie pad. Kom ons doen dit met blydskap. Het Hy dan nie ’n Saggeus-pad met ons kom loop nie?

Ds Philip Prinsloo

Emeritus