Die skare juig; Jesus huil

 

Lukas 19: 28-44

 

Toe Jesus by Jerusalem aangekom het, was daar twee groepe wat totaal verskillend gereageer het. Aan die een kant was daar volgelinge van Jesus wat in ekstase was. Vir hulle was dit die vervulling van die profesie uit Sagaria 9: 9, soos hulle dit verstaan het. Daarom verwelkom hulle Jesus as hul koning wat deur God gestuur is. Hulle glo die tyd vir die bevryding van Israel het aangebreek. Jesus kom om hulle te lei.

Aan die ander kant was daar Fariseërs wat wou hê Jesus moet die skare stilmaak. Wat hulle betref, was die uitroepe lasterlik. Jesus moes hulle teregwys en verklaar dat Hy nie die Messias is nie. Meer nog, die lofprysing is gevaarlik. As hulle ’n opstand teen die Romeine sou begin, sou dit tot bloedvergieting lei.

Te midde van alles, ry Jesus na Jerusalem toe en Hy huil. Hy huil nie oor sy naderende dood nie. Hy huil oor Jerusalem. Jerusalem, die stad van vrede. Maar, Jerusalem wat nie weet wat vir sy vrede nodig is nie. Party dink hulle moet veg vir vryheid en vrede. Ander dink hulle moet Jesus stilmaak en doodmaak vir vrede. Hulle besef nie die vrede lê in die verlossing deur Jesus Christus nie. Hy bring ewige vrede met God.

Later sou die klippe van ’n verwoeste Jerusalem daarvan getuig: Hy het nie gekom om ’n aardse koninkryk te vestig nie. Ons kan Hom nie misbruik om ons eie koninkryke te bou nie. Maar ons kan ook nie vrede vind sonder Jesus nie.

Sou die Here vandag nog huil oor ons wêreld en ons mense? Weet ons wat vir ons vrede nodig is, of is ons blind daarvoor? Sommige bly stil ter wille van vrede. Ander veg vir vrede. Gelowiges bid vir die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4: 7).

U self het oor Jerusalem, die vredestad, geween.

Bekeer, bekeer u volk, o Heer, wil aan hul guns verleen!

(Gesang 479: 1)

Ds Philip Prinsloo

Emeritus