Onthou…

 

1 Kronieke 16: 1-36

 

Ons geheue is ’n kragtige hulpmiddel wat die Here aan ons gegee het. Ons brein is soos ’n liasseerkabinet waarin ’n klomp lêers oor die verlede opgesluit is. Al wat ons nodig het om hierdie lêers oop te maak, is ’n enkele stimulus. ’n Foto kan ons byvoorbeeld terugneem na ’n ou-ou era. ’n Reuk kan ons terugvoer na ons jeug. ’n Vreemdeling se stem of manier van lag maak dalk weer jou tienerjare oop. Die Hebreeuse woord wat op verskeie plekke gebruik word om iets van ons herinneringe te beskryf, is ’n woord wat eintlik daarna verwys dat ons die verlede lewendig in die hede sien. Dit verwys na ’n fisiese herlewing van ’n bepaalde episode. Saam met hierdie herontdekkings kom daar natuurlik ’n klomp emosies. Hartseer, weemoed, vreugde, verlange…

Met die aankoms van die verbondsark in Jerusalem word Dawid se geheue só verfris. Hy haal op digterlike wyse die lêers wat sy verhouding met God uitbeeld, na vore. Hy kan daarná nie anders as om ’n loflied te sing nie. Die loflied, wat volgens oorlewering by hierdie geleentheid vir ’n eerste keer gesing is, word later ’n amptelike lied. Dit vertel van God se reddingsdade en van hoe al sy beloftes waar geword het.

In ons wêreld is daar heelwat sigbare simbole. Of dit ’n kruis langs die pad is wat ons aan die offer van ons Here Jesus Christus herinner en of dit ’n asemrowende stukkie natuur is wat ons aan die grootheid van God se skeppingswerk herinner, ons word telkens blootgestel aan God se werk deur die eeue. Hierdie blootstelling behoort elkeen van ons te dring tot ’n lofsang: Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes. Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind… Dan moet ek juig... (Ges 464: 2). Wanneer ons geheue in die alledaagse bestaan geprikkel word deur allerlei stimuli en ons meegevoer word na ’n wêreld van ouds, mag die tekens van God se teenwoordigheid en genade ons ook bring na ’n wêreld van dank en lof.

Ds David Barnard

Magaliesmoot