Die kragbron van ons geloof

 

1 Tessalonisense 2: 1-10

 

Jare gelede, toe my oudste seun nog in sy peuterjare was, het van ons familielede geglo dat ’n kind nie vreugde uit ’n speelding sal put as daardie speelding nie ’n groot lawaai kon maak nie. Vir ’n pa wat agter ’n lessenaar na inspirasie en wysheid gesoek het, was dit ’n resep vir konflik. Ek het, tot my skande, by meer as een geleentheid die batterye van spesifieke items in sy speelgoedkas agterstevoor ingesit om so ’n paar uur van stilte te koop. Sonder die kragbron het die speelding geen waarde gehad nie en het sy aantrekkingskrag vir my kind verdwyn.

Ek het oor die laaste jare, soos dit enige predikant betaam, dikwels in die briefliteratuur van die Bybel na antwoorde gesoek oor hoe ’n gemeente kan voortbestaan en uitgebou kan word. Daar is tans talle wonderlike programme oor gemeentebou en gemeentegroei in die mark beskikbaar. In my soeke na strukture en programme in die briefliteratuur, wat natuurlik iets van ’n dinamiese vroeë kerk weerspieël het, het ek tot die interessante gevolgtrekking gekom dat daar nie sprake was van uitgewerkte programme of strukture nie. Al waarvan daar wel sprake was, was ’n opregte liefde vir die mense aan wie die evangelie verkondig is en ’n totale oorgawe aan God wat uit geloof gebore is. Hierdie oorgawe en toewyding was van so ’n aard dat die apostels bereid was om hul lewens daarvoor prys te gee.

Geen gemeente kan sonder ’n bedieningsplan sinvol funksioneer nie. Elke gemeente maak van die een of ander plan of struktuur gebruik om haar aktiwiteite te orden. Geen plan kan egter sonder liefde werk nie. Liefde is die kragbron waarsonder die wonderlikste program gewoon stil-stil sal kwyn.

Gebed

Staan ons by, Here, dat ons liefde, soos die een uitstaande kleur op ’n kunstenaar se palet, ook sal uitstaan tot u eer en tot voordeel van ons medemens. Amen.

Gesang 530: 1-3

Ds David Barnard

Magaliesmoot