Selfs dood is ’n bate

 

Filippense 1: 12-26

 

Die 20 of 30 jaar voor Christus tot ongeveer 180 nC het bekend gestaan as die pax Romana. Dit het verwys na ’n vredestyd in die Romeinse Ryk. Om hierdie vrede te handhaaf, het van die regering gevra om enige potensiële oproer dadelik in die kiem te smoor. Enige individu wat vreemd opgetree het of die orde bedreig het, is deur teregstelling of gevangenskap uit die samelewing verwyder. Dit was onder hierdie dekmantel dat Jesus byvoorbeeld deur die Joodse leiers aangekla is. Dit is om dieselfde rede dat die apostel Paulus in die gevangenis beland het.

Tronkstraf sou natuurlik enige mens se entoesiasme om die evangelie te verkondig, demp. Die meeste van ons kyk immers na die lewe in terme van bates en laste. Die dinge wat ons bang maak of wat onaangenaam is, kategoriseer ons as laste, en dit wat aangenaam is of wat ons lewens verryk, kategoriseer ons as bates. Die apostel Paulus keer hierdie stelsel op sy kop. Sy tronkverblyf, wat in die meeste mense se lewens as ’n las beskou sou word, sien hy as ’n bate, ’n geleentheid om Jesus se saak te dien. Die dood, wat vrees by die meeste mense wakker maak, is vir hom ’n bate – iets waarna hy uitsien.

Paulus vertel verder dat nie alle verkondigers van die evangelie van hom gehou het nie. Sommige was waarskynlik jaloers op die feit dat hy dikwels in die kollig was. Die Griekse woord wat met jaloers vertaal is, het letterlik beteken om afgunstig te wees op ’n ander mens se sukses. Ook aan hierdie afguns steur hy hom nie. Hy was so gefokus op sy dienswerk dat niks, nie omstandighede of mense, hom van stryk gebring het nie.

Ek vermoed die meeste van ons se fokus skuif maklik wanneer ons omstandighede nie gunstig is nie. Ons doelwitte vervaag soms wanneer mense ons seermaak. Die apostel leer ons om te konsentreer op die dinge waarop dit werklik aankom. Ons leef immers danksy Jesus se koms in pax sempiterna, vrede vir altyd.

Ds David Barnard

Magaliesmoot