Wat van môre?

 

Jesaja 43: 1-13

 

Lord Byron, ’n Britse digter wat in die 19de eeu geleef het, het oor die toekoms gesê: Die beste voorspeller van die toekoms, is die verlede. Ons kan ongelukkig nie voorspel wat in komende dae of jare gaan gebeur nie. Ons het wél in ’n mate beheer oor die gesindheid waarmee ons die toekoms tegemoetgaan. Elke nuwe dag het immers twee handvatsels. Jy gaan die nuwe dag oopmaak met ’n handvatsel van vrees óf met ’n handvatsel van geloof en hoop.

Die volk van die Here het op die vooraand van hul terugkeer uit ballingskap gestaan. Hulle sou binnekort weer hul eie land ingaan. Hulle was onseker omdat hulle nie geweet het wat om te verwag nie. Hulle was beangs omdat hul land waarskynlik in puin gelê het. Dit is op hierdie punt dat die profeet Jesaja ’n treffende troosboodskap aan hulle bring: Moenie bang wees nie. Die harde werklikheid word, midde-in hierdie trooswoorde, nie verdoesel of in watte toegedraai nie.

Daar kan strome water of vlamme op jou afpeil. Trouens, deur die jare het ons besef dit gebeur wel. Die strome en vlamme verteenwoordig verskeie beproewinge wat deel uitmaak van ons bestaan. ’n Mens kan in ’n mate voorbereid wees op beproewinge, maar ons sal na alle waarskynlikheid nooit die volle omvang daarvan kan voorsien nie. Die Here roep ons nietemin op om kalm en vol vertroue te wees. Ons hoef nie te vrees nie, Hy is by ons. Op elke bladsy van ons lewensboek, al het ons nog nie daardie bladsy oopgemaak nie, is immers die watermerk van God se teenwoordigheid sigbaar. Laat ons biddend en moedig die toekoms in die oë kyk, want God is by ons en met ons vir ewig.

Gebed

In ons onmag en onvermoë buig ons nederig voor u almag en alvermoë en pleit: Here, wees ons Leidsman in die hede, ons hoop vir die toekoms, ons waarborg uit die verlede. Amen.

Gesang 286

Ds David Barnard

Magaliesmoot