Gestuurdes

 

Handelinge 12: 24 – 13: 5

 

Ons leef in ’n tyd waarin mense geweldig besig is. Daar is selde genoeg tyd. Soveel dinge moet teen ’n sekere datum en tyd klaar wees. Hierdie rotresies het ons almal in sy kloue. As ons ’n slag so van die kant af kyk waarom almal so besig is, dan word ’n paar dinge gou duidelik. Dit is vir nog geld, meer geld, vir meer en nuwer besittings en luukshede, vir nog feeste wat bygewoon moet word, nog pret, nog wins en soms vir nog niksdoen. En tog is daar so min by wie vreugde te vind is. Daar is by mense net hierdie gejaagdheid en ongedurigheid en ’n soeke na selfverheerliking te sien.

By die gelowiges van wie ons lees in Handelinge vind ons iets anders. Hulle is ook besig, hulle is ook gedrewe. En tog is daar ’n rustigheid, tyd vir aanbidding, tyd vir mekaar, tyd vir die dien van die Here. En daar is ’n entoesiasme vir Jesus, vir sy werk en vir mekaar. As God hulle verder stuur, dan is dit juis om die entoesiasme verder te gaan deel, om te gaan vertel van Jesus wat opgestaan het uit die dood en dat daar nou redding vir alle mense is. Dit is hierdie woord wat hulle verkondig. Dit is hierin dat hulle hul vreugde vind.

Het jy al gewonder waar God jou in jou besige skedule kan en wil gebruik? Dit is nodig om soos hierdie gelowiges daaroor te bid en tyd te maak om die Here te dien. En te begin om die liefde wat Jesus vir my en jou het, te deel. Wees vriendelik met daardie ou mens wie se uurglas begin leegloop. Maak tyd vir die siekes en gestremdes, die verontregtes en ontnugterdes. Deel gewoon met hulle wat God jou reeds gegee het en in jou hart geplaas het, want dan word nie net hul dag mooi nie, maar ook joune. Dan ervaar ons dat ons ook instrumente in God se hand word. Want so stuur Hy ons op ons eie unieke sendingpad. Dan word my besig wees hier op aarde iets wat ook vir my vrede en vreugde bring.

Ds Jaco Dreyer

Bloemfontein