Donderdag 21 April

’n Woord van bemoediging

 

Handelinge 13: 13-37

 

Ons weet hoe klein, hoe arm, hoe eensaam mense is, hoe teer en kwesbaar. Ons weet dat daar hartseer is wat deur niemand getroos word nie. Ons weet daar is nie eintlik ’n groter droefheid as die droefheid van ’n hart wat deur niemand verstaan word nie. Ons weet die lewe is vir sommige mense ’n ondraaglike pyn. Ons het almal letsels en leë plekke in ons hart wat niemand kan genees of vul nie. Ons het almal woorde van bemoediging nodig.

Dit is ook die behoefte wat die mense in die sinagoge in Antiogië gehad het toe Paulus en sy geselskap daar aangekom het. Op hul uitnodiging om ’n woord van bemoediging te bring, gryp hy die geleentheid aan om te vertel hoe God ons bemoedig. Hy gee ’n kort uiteensetting van hoe God in en deur die Israeliete gewerk het, om uit te kom by die belofte wat God in vervulling laat kom het deur die Verlosser te stuur. Sy woord van bemoediging lê in Jesus wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Dit noem hy die goeie boodskap, want daardeur is nou versoening bewerk tussen God en mens en het die dood nie meer die laaste sê nie. Elkeen wat in Jesus glo, sal lewe, al sterwe hy ook.

Dit is hierdie woord van bemoediging wat mense se harte aangryp en daartoe lei dat met die volgende geleentheid byna die hele stad se inwoners daar is. Buiten die moeilikhede van hierdie lewe wat ons soms seer en alleen laat, is dit die dood wat ons as mense troosteloos laat. Ons het daar geen raad en antwoord voor nie. Dit is alleen God wat in Jesus se opstanding vir ons die deur na die lewe oopmaak, die bande van die dood stukkend sny. Dit is die goeie boodskap wat nie net bemoedig nie, maar wat hoop en lewe bring. Vir elkeen wat in Jesus glo, word Hy die Verlosser, die deur na die lewe in ewigheid. Aan ons is hierdie woord van bemoediging toevertrou. Kom ons bemoedig mekaar en elkeen wat stukkend is met die hoop en lewe wat in ons is, elke keer as ons die geleentheid kry.

Ds Jaco Dreyer

Bloemfontein