Die wesenlike van ons geloof

 

1 Korintiërs 15: 1-19

 

Ek hoor weer die woorde van ’n lidmaat wat vra waarom kon die beroerte wat hy gekry het hom nie weggeneem het nie. Sy liggaam werk nie meer reg nie en sal ook nooit weer kan nie. Sy lewe is net een lyding, vasgekluister in hospitaalbed na hospitaalbed. Dan is daar weer die woorde van ’n ander lidmaat wat sê dit kan nie, dit mag nie! My vrou is dood, weggeruk, so skielik. Ek kan die gemis nie uitstaan nie. Niks maak sin nie, ek kry nie gewerk nie, ek kry nie geslaap nie. Ek wil ’n einde aan alles maak. Hoe antwoord ’n mens? Die dood is vir sommige ’n uitkoms, vir ander ’n afskuwelike monster wat alles verongeluk!

As daar geen opstanding is nie, as daar geen ander lewe is as net hierdie een wat ons op die oomblik smaak nie, is die dood vir ons soms net een van hierdie twee uiterstes. Die woorde wat Paulus in hierdie gedeelte met ons deel, is die wesenlike van sy prediking en die wesenlike van ons geloof. Die opstanding van Jesus maak hierdie lewe en die tyd wat ons hier gegun is anders, maar maak ook die toekoms van nuwe lewe oop. Dit maak dat wanneer ons moet afskeid neem by ’n sterfbed van ’n gelowige die afskeid nie finaal is nie. Dat ons voortgaan met tyd wat ons nog gegun is deur die krag van God wat oor die dood heers en ons in sy genade maak wat ons is. Dit maak dat sy genade elke môre vir ons nuut daar is, ook in haglike omstandighede, en dat ons kan voortgaan met die krag van God wat Jesus uit die dood opgewek het.

Dat Christus opgestaan het uit die dood, beteken dat Hy die prys vir my sonde betaal het. Vergifnis word nou moontlik as ons aan sy offerdaad vashou. Want self kan ons die prys nie betaal nie. So word ware lewe moontlik vir elkeen wat in Hom glo. Ons is wie ons is en ons het wat ons het danksy die genade van God. Kom ons leef daaruit, met hoop en moed, want Jesus het opgestaan en daarom sal ons lewe!

Ds Jaco Dreyer

Bloemfontein