Herken ons die Metgesel?

 

Lukas 24: 13-35

 

Die Emmausgangers gee nie veel aandag aan die onverwagse "vreemdeling" nie, want hulle is moedeloos: Alles het in duie gestort. Die lewe het nie meer sin nie, niks om voor te hoop nie. Dit kom nie eens by hulle op om Jesus te soek nie, want hulle meen Hy is onherroeplik dood. Daarom kom hulle nie agter nie dat dit Hy is wat hulle langs die pad "inhaal". Hulle herken Hom nie, want hulle verwag Hom nie.

By Emmaus neem die "Metgesel" egter die uitnodiging aan om te bly. Terwyl Hy praat, het hul harte brandend geword. Hoewel Hy die gas is, tree Hy op as gasheer en Hy breek die brood. Toe gaan hul oë oop, en hulle herken Jesus.

Ons kan baie praat oor Jesus, maar by Hom verbykyk. Wanneer ons egter ook mét Hom praat, word dit ’n ontmoetingsplek met die Lewende Heer.

By die Emmausgangers se ontmoeting met die Lewende Heer sien ons die kontinuïteit van ons aardse menswees met dié van die hiernamaals. Hy, as Opgestane Heer, praat met hulle. Hulle herken Hom – Hy het nie iemand anders geword nie. Dis dieselfde Jesus. Anders sou Jesus se opstanding baie min betekenis vir hulle en vir ons gehad het. Dus, in die ewige lewe: dieselfde ons, maar ook nie dieselfde nie.

Soos die Emmausgangers aanvanklik, ken gelowiges vandag ook soms sulke tye van twyfel en moedeloosheid en dink ons dat die lewe nie werd is om gelewe te word nie. Wanneer mense meen dat hulle niks en niemand het om voor te leef nie, word hulle verteer deur ’n gevoel van sinloosheid. Wanneer gelowiges soos die Emmausgangers dink, loop hulle ook gevaar om Jesus nie raak te sien nie. Nietzsche sê: Wie ’n waarvoor het om te leef, kan byna elke struikelblok oorwin. Die keerkant hiervan is dat niks so sinloos is soos ’n toestand sonder ’n doel nie.

Nadat die Emmausgangers Jesus herken het, besef hulle dat hulle Iemand en ’n doel het om voor te leef. Hulle gaan ywerig na Jerusalem.

Prof Alex Antonites

Emeritus