Anderkant die verganklike

 

1 Korintiërs 15: 46-50

 

In ons lewens alhier, duskant die graf, bepaal die dood in ’n mindere of meerdere mate die inhoud van ons lewens, wat ons doen of nie doen nie. Deur die dood weet ons van jonk wees, van volwasse wees of van oud wees. Deur die dood is ons soms bewus daarvan dat ons aardse bestaan relatief is en nie ewig gaan hou nie.

Vir baie is die dood niks anders nie as die einde en ’n verskrikking. Daardeur is die dood vir hulle ’n ramp en niks meer nie. So beland baie onvoorbereid op hul sterfbed. By hulle is die vooruitsig van ’n sterfbed oorheers deur wanhoop, verslaentheid of angs. Mense wil lewe. Selfs diegene wat die lewe nie watwonders vind nie, wil nogtans lewe, nooit sterwe nie.

Ons teksgedeelte wil sê so ’n benadering is nie nodig nie. Inteendeel, Paulus stel dit dat ons liewer moet let op ’n volgorde. Eers bestaan die mens se fisiese (natuurlike) menswees. Dit sterf uiteindelik. In die opstanding tot die ewige lewe verkry ons die nuwe geestelike menswees met ’n geestelike liggaam. Eers moet die natuurlike liggaam in die dood ondergaan voordat die geestelike liggaam kom. Hierdie volgorde kan nie omgekeer of verander word nie.

Die natuurlike mens is verganklik. Dit gaan verby. By begrafnisse kom hierdie werklikheid weer hard na vore. Die natuurlike mens is stoflik, dit kom tot ’n einde. Dit mis die kenmerke van die hemelse. Daarteenoor is die geestelike mens se herkoms van God. Dit besit hemelse eienskappe: onverganklikheid en krag, en dit transendeer (oorskry) ruimte en tyd. Dit sal nie tot sterwe kom nie, maar onverganklik bly. ’n Mens kan nie anders nie as om dit ’n heerlike bestaanswyse te noem. Die Eersteling toon dit aan die Emmausgangers en later aan die dissipels.

Ondertussen word die gelowiges geroep om meer te word wat hulle reeds in Christus is. Die sin van die lewe is hier te verwerklik, maar ook tot die "anderkant" van die verganklike, in en tot Iemand anders.

Prof Alex Antonites

Emeritus