Hoop slegs vir hierdie lewe?

 

1 Korintiërs 15: 18-21

 

Alle mense gaan die een of ander tyd hul sterwensuur tegemoet, al is dit so dat dit nie by alle mense op dieselfde manier gebeur nie. Sommige meen ons fokus moet uitsluitlik op hierdie wêreld gerig wees. Dis al wat werklik is. Unamuno sê dis in die mens se aard om te smag na onsterflikheid met die hart, maar om dit dan met die verstand te ontken. Dit kan nie wees nie.

Die uitkyk van pessimisme sê daar is geen God, geen uiteindelike sin waarvoor ’n mens hoop nie. Die fatalisme sê ’n mens moet dinge maar laat gebeur, want jy kan nie jou lot ter hande neem nie: die Noodlot is oppermagtig – dinge is soos wat dit is. Om jou op ’n toekoms te rig, is onnodig en sinloos.

Die gelowige gaan die dood anders tegemoet. Die evangelie sê nooit dat ons hierdie lewe waardeloos ag nie. Inteendeel, ons word geroep om juis in hierdie wêreld voluit te lewe. Maar dis nie die gelowiges se volledige prentjie nie. Christus se opstanding open nuwe perspektiewe. Ons sal die Opgestane Heer volg oor die grense van lewe en dood. Ons is inbegrepe in sy opstanding tot die ewige lewe. Gelowiges weet dat geen teenswoordige of toekomstige dinge, geen lewe of dood, hulle sal kan skei van die liefde van God nie. Dis die meer volledige prentjie van die gelowige.

As dit nou sou blyk dat dit alles ydele hoop is, dan is die gelowige die beklaenswaardigste van alle mense. As die opstanding tot die ewige lewe ’n illusie is, dan het daar ten opsigte van die mens wesenlik niks verander nie. Indien ons net in hierdie lewe ons hoop op Christus bou, sal ons sekerlik ook baie groot en grootse dinge in die wêreld tot stand kan bring… maar is dit al? Paulus sal sê nee, want dan is ons die mees uitsiglose, beklaenswaardige van alle mense.

God staan borg daarvoor dat ons die ewige toekoms sal sien, ’n nuwe eeu wat wag, dat ons deel sal hê aan sy heerlikheid. Die Opgestane Heer laat ons uitsien na ’n lewe in die hiernamaals. Dis nie fantasie of ’n soort verdowingsmiddel nie, maar iets werklik wat sin gee aan ons lewens. Wie wil in hul sterwensuur mislei word deur valse hoop?

Prof Alex Antonites

Emeritus