Dood vir die sonde, maar lewend vir God

 

Romeine 6: 8-11

 

Baie mense vlug nie net van gevare daar buite nie, maar ook van hulself. Dis soms ’n vlug weg van die eie innerlike. Dis ook vlug van alleenwees, omdat mense nie alleen met hulself wil wees nie. Dis ’n gevoel van leegheid, inhoudloosheid en sinloosheid. Die lewe het bloot ’n iets geword en nie meer ’n geleentheid tot iets nie. Dan kom ’n bygeloof aan die mag van die Noodlot: Dinge is maar soos wat dit is en dit bly so.

Ja, mense vrees nie net dinge soos misdaad, terrorisme, tsunami’s, aardverwarming, kernoorlog of die dood nie, maar vrees ook sonder dat daar iets is om te vrees, die niks, met ander woorde, angs. Vlug ons ook? Die evangelie sê ons hoef nie. Opstanding beteken dat die dood geen houvas meer op Christus het nie. Dit word in gelowiges weerspieël deurdat ons ook nie meer terugkeer na ’n lewe waar sondes die oorheersende mag is nie.

Om in Christus te wees, maak dat die ewige lewe nou reeds werksaam is. Dis ’n groot begin, totdat ons geloof eendag oorgaan in aanskoue. Daarom is ons lewens vol, nie inhoudloos nie. Lewe het nou eers ’n geleentheid tot iets geword Ons lewe hier en nou op aarde, maar in die hart is daar die blydskap van ’n ewige doel. Hierdie verwagting en blydskap gee ons lewe nuwe perspektief en krag. Ons gaan eendag saam met Hom lewe.

Daagliks ervaar u en ek nog die werklikheid van sondes in ons lewe. Maar wat in Christus vir ons waar is, word ook in die verloop van ons daaglikse lewe waar. Gelowiges weerspieël die genade van die ewige lewe deur die sondes af te sterf, maar dan lewend vir God in Christus te wees. Ons gaan die dood nie alleen tegemoet nie. Hy is daar. Nee, reeds hier wandel ons met Hom in ’n nuwe lewe, terwyl ons verseker is dat ons eenmaal die heerlikheid van die ewige lewe met Hom deelagtig sal wees.

Prof Alex Antonites

Emeritus