Nou ken ons ten dele

 

1 Korintiërs 13: 11-13

 

Van God en die hiernamaals weet ons nie alles nie. Paulus sê hy praat, dink en redeneer nie meer soos ’n kind nie. Hy is nou volwasse en het die dinge van ’n kind afgelê. Hoekom sê hy dit? Met kind bedoel hy ’n klein baba wat nog net kraaigeluidjies maak. Die gelowiges, die gemeente – u en ek – is in die babafase. Niemand neem sulke kleintjies kwalik vir hul "taal" en beperkte denke nie.

Net so neem God ons ook nie kwalik dat ons baie min van Hom weet nie – ons ken net dele. Ons mag egter nie ons baba-kennis as die volle waarheid beskou en dink dat ons alles weet nie. Nee, ons kyk in ’n spieël en sien ’n raaiselagtige beeld. Die spieëls van destyds was van koper gemaak. Dit was blink gepoleer, maar dit gee maar ’n dowwe beeld. Die dowwe beeld is wat ons weet en sien van God. Wanneer ons egter oorgaan na die ewige, wanneer ons opstaan tot die nuwe eeu, gaan die babataal en die dowwe beeld verby. Net die Liefde bly. Dan praat en redeneer ons soos volwasse mense, nie meer in babataal nie, dit wil sê, ons lewe in die volmaakte, die aanskoue van God. Hier in die Liefde ken ons Hom ten volle, van naby en intensief, soos wat Hy ons nou reeds ten volle ken. Hierdie liefde is ewig omdat God liefde is, en waar die liefde werksaam is, daar woon God self.

Deur dit te weet, kan ons in die huidige bedeling voluit, sinvol en vorentoe leef in geloof, hoop en liefde. Ons weet ons beweeg na ’n Bestemming wat bly. Die huidige babafase weeg nie op teen wat kom nie, wat dan aan ons bekend gemaak gaan word. Dit beteken nie dat die min wat ons nou weet, die ten dele, alles minderwaardig of sleg is nie. Nee, die evangelie gee sin en betekenis – die wete dat God jou vryspreek van skuld en sondes. Jy hoef nie die Volmaakte te probeer verdien nie.

Prof Alex Antonites

Emeritus