Om te treur met hoop

 

1 Tessalonisense 4: 13-18

 

Die gemeente in Tessalonika het nie net voorspoed en vreugde geken nie, maar ook swaar verdrukking en teëspoed. Hulle het ook die seer van die dood geken. Hulle is ook bekommerd omdat hulle die spoedige wederkoms van die Here verwag het en sommige van hul medegelowiges reeds gesterf het. Daarom troos Paulus hulle met hierdie wonderlike toekomsperspektief dat hulle ook eendag sal opvaar saam met die Here en by Hom sal woon.

Ons wat glo, hoef nie met moedeloosheid te lewe nie. Selfs te midde van die moeilikste omstandighede kan ons steeds vashou aan hierdie hoop. Al is jy dalk baie hartseer oor iemand wat gesterf het en al voel dit of daar ’n leemte in jou lewe is wat net nooit gevul sal word nie, is die boodskap van die evangelie ook vir jou waar. Ons sal ook opstaan en lewe!

Kom ons lig vandag ons koppe op en gaan getuig ook teenoor ander van hierdie enigste troos in lewe en in sterwe, dat ons deur Jesus Christus aan God behoort en dat niks ons ooit van God se liefde kan skei nie!

Mag God ook jou seer balsem en heel deur die werking van die Heilige Gees, en mag daardie leemte in jou hart gevul word met die liefde en teenwoordigheid van die lewende Here!

Gebed

Here, U ken my hartseer en pyn. U weet watter groot leemtes daar in my hart en in my lewe is. Sal U asseblief tog aan my ook die krag skenk om vandag deur my trane die lig van u teenwoordigheid te kan ervaar? Help my om nie moedeloos te raak nie, maar te treur met hierdie hoop in my hart, dat ek aan U behoort tot in alle ewigheid. Amen.

Gesang 525: 1-2

Dr Stephan Hoffman

Bybelgenootskap van Suid-Afrika