Sondag 8 Mei (Sewende Sondag van die Opstanding

Kom ons vier fees

 

Lukas 15: 1-32

 

Die evangelie kernagtig saamgevat in drie gelykenisse. Die tema van aldrie is dieselfde: verlore, gevind, vreugde! Hoe die proses van verlore raak ook al verloop, Jesus leer nie een van die verlorenes kan hulself red nie. ’n Mens sou wel kon dink, terwyl die skaap en muntstuk tot niks in staat is nie, dat die seun darem self tot inkeer gekom het en na sy pa teruggekeer. Die gelykenis is egter duidelik. Ook die seun kon tot inkeer kom slegs as gevolg van sy herinnering aan die vaderhuis. Dit is daardie herinnering wat hom uit die varkhok gaan terughaal – hy is eintlik maar in dieselfde bootjie as die ander. Die tragiese realiteit van verlorenes is om van hul Herder, Besitter, Vader, God vervreem te wees.

Aldrie die gelykenisse vertel ook die blye boodskap van gevind word (verse 6, 9, 32). Hierin herken ons die bekende evangelie van God wat in sy Seun na hierdie wêreld toe kom, om te soek en te red wat verlore is. Lees nou weer verse 6, 9 en 32. Let veral op die term blydskap. Blydskap, net soos die begrippe verlore en terugkry, verbind hierdie drie gelykenisse nie net struktureel nie, maar druk die hartklop van die evangelie uit. Terwyl die begrippe verlore en terugkry die evangelie veral van die mens se kant beskryf, beskryf die begrip blydskap dit van God se kant. As die blydskap wat God bewerk selfs die engele in vervoering bring en die hemele vul (verse 7, 10), hoeveel te meer kan dit nie ons lewens vul nie?

Dit laat ’n mens wonder, verstaan ons nog die volle implikasie van feesvier? Weerspieël ons werklik die vreugde van gevind wees, veral gesien in die lig van die vreugde wat daar by die God van hemel en aarde is oor elkeen wat teruggevind is? Vier dus fees! Ons is immers gevind! En roep sommer jou familie en vriende om saam bly te wees.

Dr Christo van der Merwe

Emeritus