Maandag 9 Mei

Lyding

 

1 Petrus 1: 6, 7

 

Daar is twee sienings van lyding. Die een sê dit wat oor my kom, is die noodlot, die grille van die een of ander duistere mag. Die ander sê selfs lyding mag soms nodig wees (1 Pet 1: 6) en is deel van God se plan met my lewe. Die een sê lyding hou nooit op nie. Die ander sê dit duur maar ’n kort tydjie (vers 6), in die lig van die ewigheid eintlik nie noemenswaardig nie. Die een sê lyding dien geen doel nie, die ander sê dit toets die egtheid van geloof (vers 7).

Die bril waardeur ’n mens kyk, is die bepalende. As ’n mens deur die bril van hoop kyk, word terugslae ’n leerskool vir die geloof. Die bril van mooiweersgeloof laat jou anders sien. Deur daardie bril gedy geloof slegs wanneer die son skyn. Petrus sê beproewing leer ’n mens om juis in donker tye ook vir God te blom omdat beproewing ’n mens losmaak van die op en af van jou gemoedstoestande en uiterlike omstandighede.

Wie deur die bril van hoop kyk, sien die breër raamwerk: die wederkoms van Jesus Christus (vers 7b). Beproewing is nie ’n doel op sigself nie. ’n Geleerde skryf en ek meen hy is reg: Wie in die greep van beproewing kom, moenie reken dat alles staan of val binne die klein wêreldjie van sy of haar daaglikse smart nie. Dit is oop na bo, na vore; dit mond uit in die wederkoms van Jesus.

Ons krisisse en traumas, kan ’n mens sê, is deurdronge van wederkomswaarde. Kommer, besorgdheid of toekomsangs val altyd binne die lig van ’n groter, heerliker toekoms en kry dan betekenis binne ’n groter geheel. ’n Mens word, om dit so te sê, bokant jouself uitgelig, bokant die belemmering van jou eie bang gedagtes – selfs al is dit nodig dat jy ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings. Dit is iets wat Habakuk reeds eeue gelede bely het (Hab 3: 17-19). Wie dit vandag steeds met oortuiging bely, kry ribboksvoete en leef die jongste dag met geloof tegemoet.

Dr Christo van der Merwe

Emeritus