Ons toekoms

 

Lukas 21: 25-33

 

Min mense is nie bekommerd oor die toekoms nie. Ekoloë is bekommerd oor die vernietigende gevolge van besoedeling. Sosioloë is bekommerd oor die kloof tussen ryk en arm, die konflikpotensiaal van politieke onrus, die geweld en misdaad. Medici is bekommerd oor toenemende weerstand van supervirusse teen medikasie en die onkeerbare verspreiding van siektes. Geestelike leiers is bekommerd oor die ineenstorting van waardesisteme en gewetenloosheid waar daar selfs nie eens ’n basiese respek vir die lewe meer is nie.

Bekommernisse het in verskillende vorme en met wisselende intensiteit deur die eeue heen voorgekom. Lukas interpreteer dit by uitstek in die lig van die koms van die Seun van God na hierdie wêreld. Sy geboorte, kruisdood, opstanding en verheerliking lui ’n nuwe era in die mens se geskiedenis in, naamlik die eindtyd. Hierdie eindtyd wat strek van Jesus se eerste tot sy tweede koms, word deur die eeue begelei met bepaalde tekens. Die tekens was daar in die tyd van die vroeë dissipels en in die Middeleeue, en dit is vandag steeds daar.

Jesus het geleer dat hierdie tekens sê: Die Seun van die mens kom weer, met groot krag en majesteit (vers 27)! Wanneer? Net die Vader weet (Mark 13: 32). Die gelykenis van die vyeboom (verse 29-33) is egter veelseggend. Vyebome is bladwisselend. In die lente kry die skynbaar dooie boom weer nuwe takkies en blare. So moet ons die tekens van die tye interpreteer: as nuwe bloeisels van die somer, van God se koninkryk wat naby is (verse 29-33).

Ons lewe in die eindtyd – nee, die lentetyd. God se somer is op hande. Let op die tekens van die tyd – katastrofes, ellende en rampe – maar onthou dan, Jesus sê dis tekens van die geboortepyne én die verwagting van die geboorte van ’n nuwe hemel en aarde, waar die wil van God sal heers (2 Pet 3: 13) wanneer Jesus weer kom. Daarom sing ons met oorgawe: Kyk, Hy kom! Hy kom! Die Koning! Ontwaak! Ontwaak! Elk in sy woning... (Ges 587: 1), maar lewe dan soos ’n mens wat werklik glo dat die Koning weer kom.

Dr Christo van der Merwe

EmeritusOpstanding