Navolging van Jesus (2)

 

Matteus 8: 23-27

 

Matteus vertel hierdie gebeure op ’n besondere manier. Hy het sy Evangelie geskryf vir Jode wat tot die Christelike geloof gekom het. Die begrippe see en storm sou by daardie Joods-Christelike lesers bepaalde beelde oproep wat nie dieselfde vir ons beteken nie. In die Joodse denke was see en storm gelykstaande aan destruktiewe, demoniese magte, wat die volk van God in die eindtyd sou bedreig.

Dít is wat Matteus hier wil oordra: In die eindtyd, die tyd tussen die eerste en tweede koms van Christus, moet die kerk die felle aanslag van die Bose verwag. In hierdie tyd sal navolging van Christus duur wees, dit sal alles vra. Wanneer Matteus die storm beskryf, gebruik hy ’n ander Griekse term as Markus en Lukas, naamlik seismos. Dis asof ’n mens dit in die klank daarvan hoor: die katastrofiese tekens van die eindtyd (Matt 24: 3-14). Seismos! Dit moet die kerk verwag, maar dan moet die kerk ook bly vashou aan die wete: Christus is by ons, al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Sal Hy by ons wees en nie omgee nie? Is die arm van die Here te kort en sy hand te kragteloos om te red? Glad nie! Wie dit glo, is werklik kleingelowig. Meer nog, wie dit glo, tas die wese van God aan en beweeg so op die grens van wantroue. Trouens, Markus en Lukas praat veelseggend ook nie van kleingelowigheid nie, maar van ’n totale gebrek aan geloof (Mark 4: 40; Luk 8: 25).

Ons is egter nie wantrouig nie. Ons is gelowiges. Ons glo en weet: God ís naby, Hy sál red. Moet daarom nie wonder of Jesus in die skuit is nie, maak eerder vir jouself uit of jý in die skuit is en antwoord dan ook eerlik – volg jy Hom werklik? Die Here Jesus is nie dood nie, Hy leef. Ons Here slaap nie, Hy red! Volg Hom met oorgawe!

Dr Christo van der Merwe

Emeritus