Spreek in tale?

 

1 Korintiërs 14: 6-25

 

Ons lees in 1 Korintiërs 14 dat die Christene in Korinte so meegevoer geraak het dat hulle vreemde tale en klanke voortgebring het. Hulle het dit beskou as die belangrikste gawe van die Gees. Tot vandag is daar mense wat dié mening huldig. Tog wys die apostel die gebruik van klanke af. Hoor wat skryf hy:

Vers 4: Die een wat ongewone klanke gebruik, bou net homself op, maar • die een wat God se boodskap verkondig, bou die gemeente op.

Vers 6: Nou broers, as ek na julle kom en ek gebruik net vreemde klanke, • van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal net van nut wees as ek God se boodskap aan julle verkondig.

Vers 9: As julle ongewone klanke gebruik en julle praat nie ’n verstandige • woord nie, dan praat julle in die wind.

Vers 19: In die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met • my verstand praat, as ’n duisend in vreemde tale of klanke.

Vers 23: As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone • tale of klanke en daar kom buitestanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van jul verstand af nie?

Paulus beklemtoon dat ek ook met my verstand moet bid. Om deur die Gees te bid, beteken nie dat ek in die een of ander geestesvervoering raak nie. My verstand is ook daarby betrokke, want dan kan ek ook ander opbou in die geloof. Wanneer ek met heldere oortuiging en nugtere geloof bid, terwyl ek in beheer is van my gees, juis dan dien dit die opbou van die gemeente. Juis dit is die teken van ’n volwasse geloof, ’n geloof wat nie blindelings meegevoer word nie, maar wat nugter en kalm saam met die Gees tot die Gees en deur die Gees bid.

Gebed

Here, maak my verstand helder sodat ek kan onderskei wat u wil is, wat ek moet doen en sê. Skenk aan my u genade om my woorde te beheer, sodat ek nie ander mense daardeur sal seermaak nie. Gee vir my woorde wat altyd sal spreek van ontsag en respek vir U. Amen.

Dr Wim Dreyer

Universiteit van Pretoria