Drie-eenheidsondag

 

2 Korintiërs 13: 13

 

Daar is onder andere twee maniere om oor tyd te dink. Die eerste is om tyd te sien as ’n reguit lyn, met ’n beginpunt en ’n eindpunt. Dan volg die een dag op die ander, een maand op die volgende en ’n jaar op die een daarna, in ’n lang reguit tydlyn. Die tweede is om daaroor te dink in terme van ’n spiraal. Met ’n spiraal is daar iets van ’n lyn waar een dag, maand, jaar, ensovoorts, op die ander volg. Daar is egter met ’n spiraal ook ’n gevoel van ’n sikliese beweging, die gevoel dat ons rondom ’n middelpunt draai.

Die Kerkjaar werk met so ’n sikliese verstaan van tyd. Dit help ons jaar na jaar, soos wat die tyd aanbeweeg, om te spiraal rondom die misterie van die gebeure wat ons met die verloop van die Kerkjaar bedink. So kan ons die groot geloofswaarhede wat ons tydens die kerklike jaar vier, elke jaar weer besoek – Advent, Kersfees en Epifanie, die sewe Lydensweke met Goeie Vrydag, Paasfees wat die Paaskring inlei en Pinksterfees wat die Pinksterkring (verlede week) ingelei het, met Drie-eenheidsondag (wat ons vandag vier), asook Koninkryktyd. Dit help ons om die groot geloofswaarhede weer en weer te bedink sodat dit ons hele menswees sal deurweek en die basis sal word vir ons ganse bestaan. Dit help ons dat hierdie groot geloofswaarhede die bepalende sal word vir wat en hoe ons dink, sê en doen.

Eintlik spiraal ons nie rondom gebeure nie, maar rondom God wat die middelpunt is en Godself wat in hierdie gebeure aan ons geopenbaar is sodat ons die enigste ware God mag ken. Vandag aanbid ons die drie-enige God wat in alles wat ons tot dusver in die Kerkjaar gevier het, Godself so vir ons gegee het dat ons weet God sal by ons almal wees. Watter vreugde om vandag die enigste ware God – Vader, Seun en Heilige Gees – te aanbid!

Gesang 179: 1-3

Dr Anneke Viljoen

Pinetown