Om skaam te kry

 

Genesis 20: 6-10

 

Het jy al ooit skaam gekry vir jou familie? Glo my, daar is niks erger nie as om jou dood te skaam vir iemand in jou gesin – of as iemand in die gesin skaam is vir jou. Maar dan is daar skaam kry en skaam kry. Ek onthou as kind was dit die geval. Ons het in ’n plattelandse dorpie gewoon en my pa het altyd oor naweke sommer sy tuinklere aangetrek dorp toe wanneer hy gou moes winkels toe gaan. My ma en sussie sou nooit saamry nie – hul woorde was: Ek skaam my morsdood.

Dit is nie so erg nie, maar daar is ’n ander tipe skaamkry. Abraham doen iets wat ons so ’n bietjie laat skaamkry vir sy optrede. Hy vertel ’n leuen sodat hy nie sy lewe verloor nie. Abimelek was die koning van die land. Hy het vir Sara gesien en wou haar as sy vrou neem. Hy doen dit toe ook want Abraham het gejok en gesê Sara is sy sussie en nie sy vrou nie. Ja, dit was ’n leuen, maar die helfte daarvan was ook waar, want Sara was sy halfsussie. Die halwe leuen van Abraham het soveel moeilikheid veroorsaak dat God dit nie kon laat aangaan nie en Hy het self aan Abimelek verskyn en hom die waarheid vertel. ’n Halwe waarheid bly ’n leuen!

Abimelek vra vir Abraham: Wat het jy ons aangedoen? Ek leer uit hierdie vraag ’n eeue oue waarheid. Ons dink baie kere dat ons optrede of ons halwe waarhede nie so erg is nie – want niemand kry mos eintlik seer nie. Ons optrede het verreikende gevolge. Een slegte woord of daad kan ’n oorlog veroorsaak soos wat ons hier sien die geval is. Soos Abraham die voorvader van die Israeliete was, was Abimelek die voorvader van die Filistyne. En ons weet regdeur die Ou Testament was hierdie twee volke in oorlog. Hulle was letterlik vyande. Jy sien, dit neem soms net een halwe waarheid of een daad waaroor ons skaam is om ’n lewenslange oorlog aan die gang te sit. Ek wonder wat sou gebeur het as Abraham en Abimelek in ander omstandighede ontmoet het.

Dr Hein Delport

Krugersdorp