Om Jesus met klippe te gooi

 

Hebreërs 5: 11-14

 

Een Sondagoggend het daar iets baie amusant in ons kerk gebeur. Dit was in die graad 2-klas in die Sondagskool. Die kategeet het gesê hulle moet prentjies teken oor die gebeure van Paasfees. ’n Kind het ’n prentjie geteken van Jesus aan die kruis. Langs die kruis was daar ’n stokmannetjie met ’n ronde hand. En dit? vra die kategeet. Wie is dit? Nee, sê die kind, hulle is besig om Jesus met klippe te gooi. Maar hoe meer ek hieroor nagedink het, hoe meer besef ek hoeveel erns daar in hierdie verhaal is. Hoe waar is die vertelling nie? Maak ons nie vandag deel uit van die lyding van Jesus aan die kruis nie?

Die wêreld soos wat ons dit vandag ken, vertel van ’n oppervlakkigheid. Ons het te gemaklik geword. Ek het deel aan verskeie barmhartigheidsaktiwiteite, maar ek is nie fisies betrokke nie. Iemand het die verantwoordelikheid daarvoor. Ons kan nog ’n bietjie verder beweeg. Ek het deel aan die verlossing van Christus, maar dit is nie nodig vir my om kerk toe te gaan nie. Dalk ’n bietjie nader aan die huis: Ek het deel aan die kerk, maar ek hoef nie betrokke te wees by ’n diensgroep of orgaan nie, want ek gee mos offergawe.

Dit klink soos laerskoolkinders op die speelgrond gedurende eerste pouse. In hierdie teks in Hebreërs raas die skrywer juis met die hoorders. Hy sê vir hulle: Ek wil dinge vir julle verduidelik oor die kerk, oor die Here, maar julle sal dit nie verstaan nie. Julle sal tog nie verstaan nie, want êrens het jy vasgehaak by ’n kindstadium in geloof. Jy drink melk – wie drink melk? Gewoonlik babas, nie waar nie? Jy is nog heeltemal te klein om oor al hierdie dinge te praat of om net saam te praat oor jou geloof, sê die skrywer.

Dan is ek en jy besig om Jesus met klippe te gooi! Ons verantwoordelikheid volgens die skrywer van Hebreërs is om mense te leer en te sorg dat jy geleer word deur die kennis en die ervaring van die Woord van God!

Dr Hein Delport

Krugersdorp