Die Trojaanse perd

 

Handelinge 1: 1-8

 

Die oorwinning van die stad Troje is sekerlik een van die bekendste verhale in die geskiedenis van die mensdom. Daar was Griekse soldate wat vir meer as tien jaar hierdie stad omsingel het en nooit die stad kon inneem nie. ’n Briljante strateeg, Ulysses, het besluit om ’n perd van hout te bou en dit aan die Trojane te gee as ’n geskenk om aan hulle te toon dat hulle werklik ’n onoorwonne stad is. Die Grieke het toe gemaak of hulle wegvaar op hul skepe om vir hul vyande te wys hulle is oorwin. Die nuuskierige en trotse Trojane het die houtperd binne hul stadsmure gebring. Daardie nag het die Griekse soldate wat weggesteek was in die houtperd die Trojaanse stadsdeur oopgemaak en hul Griekse linies ingelaat. Die soldate het die inwoners uitgewis en die stad verbrand tot op die grond. En tot vandag is die houtperd ’n teken van verloëning en verraad.

Vandag is daar ook baie dinge wat ons kan beskryf as ’n Trojaanse perd wat in ons geloofslewe kan insluip en letterlik ons lewens kan vernietig. Vir baie kan die spreekwoordelike Trojaanse perd hul gedrag of selfs hul gewoontes word.

Waar is die dissipels in die teksgedeelte? Hulle is tussen die hemelvaart van die Here en die uitstorting van die Heilige Gees. Ek dink dit is ’n baie goeie plek om te wees, maar dit kan net so ’n gevaarlike plek wees. Die opdrag wat hulle ontvang het, is om te wag vir die Heilige Gees. Vir hierdie gawe (vers 4) moet hulle net hier in Jerusalem bly.

En hier kom die moeilikheid. Jy sien, ons is nie goed met hierdie opdrag nie. In ons swakheid vind ons die belofte van die Heilige Gees. Die belofte dat Hy teenwoordig sal wees. Daar waar ons begin wankel en baklei met die vleeslike behoefte, sal ons gevul word deur die Gees, net soos die dissipels. Ek moet letterlik van binne vol gemaak word. Dit beteken nie net dat my identiteit verander het of sal verander nie – dit vra dat ek bereid sal wees om deurgaans aan myself en aan my gesin en familie te werk. Dit beteken dat ek deurgaans teen die slegte gewoontes sal baklei. Sodoende sal die wag nie in ledigheid wees nie, maar sal ek wag op die waarheid en volkomenheid van die Gees wat sal kom.

Dr Hein Delport

Krugersdorp