’n Skoon gewete

 

2 Korintiërs 1: 12-14

 

In 1984 het ’n vlug van Avianca neergestort in Spanje. Op die vlugopnemer van die vliegtuig wat die laaste oomblikke van die vlieënier en die gebeure opgeneem het, was ’n interessante gesprek. Daar was ’n duidelike waarskuwing vanaf die elektroniese stem van die vliegtuig se rekenaar wat die vlieënier vermaan om die vliegtuig te laat styg. Die laaste woorde van die vlieënier was gerig aan die rekenaarstelsel. Hy het gesê: Ag, bly stil! En toe die elektronika afgeskakel. Minute later het die vliegtuig teen die kant van ’n berg vasgevlieg en almal op die vlug is dood. Vandag is dit ’n goeie voorbeeld van hoe mense hul waarskuwingstelsel gebruik, hoe mense te werk gaan met hul gewete.

Ek dink God het die gewete so ontwerp dat dit in die raamwerk van elke siel ingebou is. In die Griekse beskrywing van die woord beteken gewete: Die siel wat oor homself reflekteer. Jou gewete kan nie beskou word as die Heilige Gees of die Woord van God soos wat baie mense dink nie. Die gewete is eerder ’n geskenk van God af om seker te maak ons doen nie skade nie. Wanneer nodig, sal hierdie ingeboude waarskuwingsisteem begin om emosies in jou wakker te maak. Dit is dan hierdie alarm wat in jou is wat jou waarsku om weer terug te gaan en vergifnis te vra. ’n Goeie porsie en gereelde dieet van die Woord van God kan ons gewetens voed om nie besoedel te word nie en ’n hoë etiese standaard vir die gelowige verseker.

Om dit ’n bietjie beter te verduidelik: ’n Gelowige se gewete kan vergelyk word met ’n dakvenster. Dit maak nie self lig nie, maar dit laat lig in die siel in. Die effektiwiteit daarvan word bepaal deur hoe skoon jy hierdie daklig hou. Hou jy die daklig (jou gewete) skoon, dan skyn die lig wat deurgelaat word suiwer deur (jy leef ’n eties verantwoordelike lewe). Maar hoe kry ons die gewete skoon? Luister na Hebreërs 10: 22: Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete. Watter genade! En watter voorreg om deel te mag wees van die kerk van die Here Jesus Christus, die Een wat gewetes reinig.

Dr Hein Delport

Krugersdorp