Rusdagmense

 

Genesis 1: 1 – 2: 4a

 

Genesis 1 tot 11 vertel van God se besig wees met sy mense. Kom dink saam met my na oor menswees voor God.

Die skeppingsverhaal van Genesis 1 vertel dat God hemel en aarde, land en see, plante en diere, voëls en visse, die son, maan en sterre gemaak het. Telkens was dit wat God geskep het, vir God baie goed.

As die skrywer sê dat God geskep het deur net te praat, betwis hy die siening van mense van sy tyd wat geglo het dat die skeppingsgebeure die gevolg was van ’n titaniese stryd tussen gode. As hy verder die son, maan en sterre voorhou as dinge wat deur God al pratend geskep het, koggel hy ook die mense wat die hemelliggame as gode aanbid en vereer het. Die eerste skeppingsverhaal verkondig dat God die Skepper is en roep ons op tot geloof in en gehoorsaamheid aan God.

Op die sesde dag word die mens geskape en op die sewende dag het God gerus. Die mens word hier, soos in Psalm 8, hoog aangeskryf en in ’n besondere verhouding tot God en die skepping gestel – die mens is God se verteenwoordiger op aarde. Maar die mens leef ook vanuit God se genade en sorg. Die eerste lewensdag van die mens was die sewende dag in die skeppingsverhaal, die sabbat en rusdag waarop die rustende mens op God se sorg moes vertrou. Die vertelling van die gebeure van al die ander skeppingsdae word afgesluit met dit was aand en dit was môre, maar dit word nie van die sewende dag gesê nie. Die sewende dag lê oop, die toekoms in, ’n lewe vanuit God se genade.

Vandag is dit Sondag, die opstandingsdag, die teken van God se genade. Ons kan die nuwe week aanpak met die sekerheid dat ons elke dag uit God se genade leef. God is Here van ons lewe. Moenie so angstig raak oor wat môre dalk kan gebeur, dat vandag ongeleef by jou verbygaan nie.

Ds Japie Coetzee

Kempton Park-Oos