Arbeidsmense

 

Genesis 2: 4b-25

 

Die twee skeppingsverhale wat ons in Genesis 1 en 2 vind, verskil van mekaar. Die skeppingsverhale is nie wetenskaplike verslae nie maar voorwetenskaplike vertellings met ’n boodskap oor God se betrokkenheid by mense en die werklikheid.

Genesis 2: 4 en verder open vir ons ’n ander perspektief op die mens in sy verhouding met God en die skepping. Menswees het met arbeid te doen. Niks op aarde kon gebeur nie want, so lees ons, die Here het nog nie op die aarde laat reën nie en daar was nog niemand om die grond te bewerk nie. God gee dus aan die mens groot verantwoordelikheid oor sy skepping. God wil dat ons sy medewerkers sal wees in die bewerking en bewaring daarvan. Om te kan werk, is ’n voorreg en om met God se wêreld besig te mag wees, is ’n groot verantwoordelikheid. Geen werk of werker is onbelangrik of minderwaardig nie.

Die mens as medewerker van God word dus hoog aangeskryf, maar helaas, reeds hier in die inleidende hoofstukke van die Bybel kry ons ook ’n donker prentjie van die mens. Dit is die ander lyn van die verhouding tussen mens en God wat dwarsdeur die Bybel loop. Naas die lyn van God se liefde en genade, vind ons die lyn van die mens se opstand en ongehoorsaamheid. Dit wat God goed gemaak het, word telkens deur die mens vernietig. Die mens self bring sy verhouding met God, met ander mense en selfs die sinvolheid en vreugde van ons arbeid in gedrang.

Dit laat ons anders kyk na die werk wat ons elke dag moet doen. Ons kan dankbaar die geleentheid en voorreg om te kan werk aangryp, want God sorg so vir ons. Hierdie besef dat jy medewerker van God is, gee betekenis en vreugde aan ons daaglikse werk.

Ds Japie Coetzee

Kempton Park-Oos