Wegkruipertjie en vroteier

 

Genesis 3

 

In Genesis 1 tot 3 lees ons ’n getuienis oor die mens. God se verteenwoordiger en beeld, sy medewerker, is tegelyk opstandeling, sondaar, en natuurlik skuldig! Die vertelling van Adam en Eva se wegkruipery en pogings tot verontskuldiging na die vergryp om soos God te wil wees, verkondig dit byna komies!

Dit laat my dink aan ons destydse kinderspeletjies soos wegkruipertjie. Een van die deelnemers moes oë toemaak en tot 50 tel terwyl die ander wegkruip. Ons was baie kreatief met ons wegkruipery – in die hoenderhok, onder die bed in Ma en Pa se slaapkamer. Oral waar jy geglo het jy nie opgespoor sal word nie!

Die ander speletjie uit my kindertyd waaraan Adam en Eva se verontskuldigings my laat dink, is vroteier. Onthou jy dit nog? Ons het in ’n kring op die grasperk gesit met ons gesigte na die binnekant van die kring gekeer. Een van die deelnemers het dan met ’n sakdoek in die hand al om die kring gestap of stadig gedraf en probeer om die sakdoek onopsigtelik agter een van die sittendes se rug te plaas. As laasgenoemde nie die sakdoek opmerk nie en dus steeds sittend daarmee betrap word, word hy of sy tot vroteier verklaar en moet dan in die middel van die kring gaan sit.

Só, vertel Genesis 3, het Adam en Eva eers met God wegkruipertjie gespeel, en toe hulle uitgevang is, speel hulle vroteier met mekaar om die blaam te verplaas. Hierdie optrede is steeds eie aan menswees. Ons doen dit steeds!

Min dinge kan verhoudings so vernietig soos om sonde teenoor God en jou naaste te ontken en daarin te volhard (Ps 32). Hoe vindingryk ons ook al mag wees met ons ontkenning en verskonings, heling van verhoudings en emosionele heling gebeur nie sonder skulderkenning en belydenis nie. Hou dus maar op om wegkruipertjie met God en vroteier met jou medemens te speel en begin weer lewe! God is genadig!

Ds Japie Coetzee

Kempton Park-Oos