Ten spyte van die patroon...

 

Genesis 6: 1-8

 

Die mens bly maar mens... Dit bring ons in die Genesis-verhale by ’n gedeelte wat vreemd op die oor val, die verwysing na die reuse. Die patroon van harmonie en opstand in die verhouding tussen God en mens herhaal hom weer eens. Steeds wil die mens sy eie heil uitwerk, wil hy soos God wees, sélf God wees. Daarom kom die opstand van die mens gou weer na vore. So vind ons in Genesis 6: 1-4 die eienaardige verhaal van vermenging tussen hemelse wesens en mense. Die mense van daardie tyd het geglo dat as daar ’n nageslag kan wees tussen gode en mense, die nageslag gevrywaar sal wees van die beperktheid van menswees. Hulle sal dan hulself kan handhaaf en so vir hulle ’n naam maak! Nóg ’n poging van die mens om teen sy eie beperktheid in opstand te kom en soos God te wil wees.

Die Noagverhaal wat hierop volg, bevestig dat die patroon voortduur: die mens se ongehoorsaamheid en God se oordeel oor sonde, en God se liefde en genade vir die mens (lees gerus later die hele verhaal tot by Gen 9). God het gesien dat die mense ongehoorsaam, verdorwe en eiegeregtig was. Dit het God diep gegrief en bedroef gemaak. Die mense se verdorwenheid word egter weer eens opgevolg deur die oordeel van God oor sonde met die sondvloedgebeure. Die aanvanklike harmonie tussen God en Noag word bevestig deur die feit dat as God oordeel wil bring oor die mense wat net slegte dinge bedink, God die gehoorsame Noag begenadig en gebruik tot redding van die mensdom. Selfs as Noag na die sondvloed homself te buite gaan, gee die Here steeds aan hom ’n nageslag en ’n geseënde lewe. Die behoud van die mens is van God – nie van onsself nie. Daarom bou Noag na die vloed ’n altaar om aan die Here ’n dankoffer te bring.

Die familieregister van die nakomelinge van Noag wat nou volg (hoofstuk 10) vertel van ’n geruime tyd waarin die mense in harmonie met God leef omdat God weer eens en ten spyte van die mens se gesindheid en optrede, genade aan die mens betoon het.

Ds Japie Coetzee

Kempton Park-Oos