Wanneer daar geen hoop meer is nie

 

Hebreërs 11: 11; Romeine 4: 13-25

 

Geloof is nooit net ’n mooiweersaak nie. Dit is ’n lewenswyse onder alle omstandighede. Die skrywer gebruik Abraham as ’n voorbeeld van iemand wat, teen alle logika in, steeds gehoop en geglo het. ’n Mens kan jou goed voorstel dat Abraham eintlik alle rede tot opstandigheid kon gehad het. God roep hom na die beloofde land met die belofte van ’n nageslag en dan gebeur daar niks. Daar is by wyse van spreke nie kind of kraai nie. Oënskynlik beloof God maar kom nie sy belofte na nie.

Tog het Abraham bly hoop en glo, selfs teen die natuurlike gang van die lewe in. Toe hy en Sara menslik gesproke nie meer kon kinders hê nie, is Isak gebore. Daarby was in die geboorte van een enkele kind die belofte van ’n nageslag opgesluit. Dit was nie asof Abraham baie kinders gehad het wat hom moes oortuig dat hyself in sy leeftyd reeds die eerste tekens van ’n nageslag soos sand aan die see kon sien nie.

Daarby hoef ons God nie te oortuig om sy beloftes uit te voer omdat ons so getrou sy wet onderhou en onbesproke gehoorsaam is nie. God spreek ons vry omdat sy genade so groot is. Ons leer hier dat dit onmoontlik en selfs gevaarlik is om van God iets te verwag in ruil vir jou goeie dade. God is nie daarvan afhanklik voordat Hy iets vir jou doen nie.

Ons leer ook verder dat ’n mens nie moet ophou hoop nie, selfs nie wanneer dit menslik gesproke vir jou lyk asof dit nie meer sin maak om teen jou beterwete in te bly hoop nie. Wie weet wat nog kan gebeur? Selfs al word daar nie aan jou verwagtinge voldoen nie, is daar nog altyd ’n toekoms saam met God. Die feit dat jy uit genade van God ontvang, maak jou nie ’n lamsakkige passiewe persoon nie. Paulus praat elders van die krag van die evangelie – dit maak jou sterk om in die geloof te volhard. Selfs al beleef jy groot teleurstellings, kan jy uithou en aanhou, soos Abraham.

Gesang 280: 1-2 as gebed

Ds Dries Beukes

Emeritus/Swartkop