Toekoms en nie einde nie

 

Hebreërs 11: 13-19

 

Die gedagtes wat in dié gedeelte beskryf is, word eintlik mooi saamgevat met die woorde van Hebreërs 10: 36: Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Partykeer voel dit vir ’n mens dat jy jou hoop op iets vestig wat nooit gaan gebeur nie. Dan wonder jy of dit nog die moeite werd is om aan te hou hoop. Ons word in dié gedeelte geïnspireer om nooit op te hou nie.

Die voorbeelde van gelowiges wat in dié gedeelte gebruik word, leer ons dat hulle gesterf het toe daar nog iets uitstaande was. Tog het hulle nooit moed opgegee nie. Die feit dat gelowiges vreemdelinge in die wêreld genoem word, herinner ons dat ons eintlike vaderland by God is. Daarom kon hulle met vrymoedigheid sterf al het hulle nog nie gekry waarop hulle gehoop het nie. Hulle het wel met die geloofsoog in die verte gesien wat hulle gaan kry. Hoe langer ’n mens hoop, hoe meer word dit waarop jy hoop ’n werklikheid. Jy bedink die werklikheid, maar jy kyk ook by die hier en nou verby, en jy gryp na die toekoms. Selfs al maak dit menslik gesproke nie sin nie, bly jy hoop.

Abraham was bereid om vir Isak, wat hy as belofte ontvang het, onvoorwaardelik op te offer, want hy het in ’n vergesig iets gesien wat hom oortuig het dat God ’n ander plan met hom het. Toe Abraham bereid was om Isak te offer, het God hom as’t ware uit die dood aan hom teruggegee.

Ons toekoms het nie in die wêreld ’n einde nie, ten minste nie in die sin dat terwyl jy lewe jy by jou bestemming gearriveer het nie. Ons bly op pad. Ons kan hoogstens sê dat elke doelwit wat ons bereik ons by ’n nuwe begin uitbring. Jesus sterf aan ’n kruis, maar eintlik bring Hy daardeur die lewe. Nou kan ons ook met ’n geruste hart sterf, al sien ons ook die toekomstige lewe net in die verte.

Gebed

Dankie, Here, dat ons toekoms ’n altyd naderende hemelse vaderland is. Dankie dat ons burgers van God se vaderland mag wees. Amen.

Ds Dries Beukes

Emeritus/Swartkop