Groete van die huis af

 

Jakobus 1: 1

 

Oos wes, tuis bes! sê die spreekwoord. Daar is nie nog ’n plek wat jou so gelukkig maak soos jou eie huis nie. Vakansies is lekker, om mooi plekke te sien is lekker, maar die lekkerste lekker is om weer na jou eie huis terug te keer. Ek is bevoorreg om ’n huis te hê om in te bly en ’n warm bed om in te slaap, daarom kan ek my nie indink hoe dit moet wees om nie ’n tuiste te hê nie. Hoe moet dit wees om elke aand op ’n ander plek te slaap?

Jakobus skryf vir mense wat ontuis voel, mense wat voel dat hulle nie iewers hoort nie. Hy skryf vir mense wat onregverdig behandel word en niemand het wat hulle beskerm nie. Vir hulle sê Jakobus: Groete van jul huis af! Vreemd in hierdie wêreld, ontvang hulle groete van hul nuwe huis af, groete van God af.

Die twaalf stamme verwys na die nuwe Israel, na Christene wat oor die wêreld versprei is. Israel is agt eeue voor Christus deur Assirië oorwin. Tien van die twaalf stamme is uit hul vaderland weggeneem. Later is baie van die ander twee stamme ook weggevoer. Die meeste van hierdie Israeliete het nooit weer na hul vaderland teruggekeer nie. Daarom praat baie mense vandag nog van die verlore tien stamme van Israel. Jakobus wil vir mense wat ontuis voel sê dat God heelmaak, dat God in Christus weer herstel bring. Daarom skryf hy sy brief aan die twaalf stamme van Israel, want in Christus is nuwe lewe moontlik. ’n Baie ou Christelike geskrif, die Didache, skryf só oor Christene: Hulle woon in hul eie vaderlande, maar soos bywoners. Hulle deel aan alles soos burgers, maar hulle verdra alles soos vreemdelinge. Elke land is hul vaderland, maar elke vaderland is vreemd.

Soms voel ons ook ontuis, ten spyte daarvan dat ons ’n huis het om in te bly. Ons voel vreemd en onwelkom in hierdie wêreld. Ons voel uitgesluit en onbeskerm. Jakobus sê ook vir my en jou: Groete van God af. In sy Vaderhart is daar woonplek vir jou.

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia