Wees bly as jy swaarkry

 

Jakobus 1: 2-4

 

Wees bly as jy swaarkry, sê Jakobus, die wysheidsleraar. Vier fees as alles in jou lewe agterstevoor en onderstebo is! Dit klink inderdaad soos agterstevoor raad. Wanneer die lewe sy klappe aan ons uitdeel, is vreugde allermins die emosie wat ons ervaar. Jakobus bemoedig mense wat al die swaarkry van die lewe ervaar het. Hulle is arm en uitgelewer aan die genade van hul werkgewers. Daar is niemand wat hulle beskerm nie, niemand wat aan hul kant is en sorg dat hulle nie uitgebuit word nie. Hierdie nuwe Christene het heel waarskynlik gewonder of dit dan die moeite werd is om te bly glo in ・n liefdevolle Here. Waar is God as ek seerkry?

Jakobus probeer nie om hierdie moeilike vraag te antwoord nie. Hy verdedig God nie met slimpraatjies nie. Hy probeer nie antwoorde gee op al die hoekoms en waaroms nie. Sy raad is eenvoudig: Volhard in jou geloof, bly glo dat God naby jou is, al voel Hy ver. Volharding, uithou en aanhou wys dat jy geloofskarakter het.

Die proses van goudsuiwering verduidelik iets van hierdie gedagte. Die produksie van suiwer goud is geen eenvoudige prosedure nie. Goud smelt teen‘n enorme 1063 grade Celsius. In die gesmelte staat kan dit dan gesuiwer word. Eers wanneer goud aan die smeltkroes blootgestel word, kan ons die edelmetaal sien en waardeer. In 1 Petrus 1: 7 word die egtheid van ons geloof ook aan die smeltkroes verbind: Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Iemand met geloofskarakter sien God se liefde raak ten spyte van swaarkry. Iemand met geloofskarakter weet dat God jou dra as jy self nie meer verder weet hoe vorentoe nie.

Wees bly as jy God op hierdie manier in jou lewe ontmoet. Wees bly as ʼn seerkry-ervaring jou laat besef dat God gister, vandag en môre jou Here is.

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia