Geweeg en te lig bevind

 

Jakobus 2: 1-13

 

Ons almal weet hoe dit voel om geweeg te word en te lig bevind te word. Om te ervaar dat jy nie goed genoeg is nie. Om diskriminasie aan jou eie lyf te voel. Ons weet wat die woord diskriminasie beteken. Dit gebeur wanneer ons mense se waarde meet aan hoe hulle lyk. Jy is nie goed genoeg nie, want jy is te arm, te wit, te swart, te vroulik en deesdae te manlik. Dit is erg om aan die ontvangkant van diskriminasie te wees, nog erger as jy die uitdeler daarvan is. Jakobus waarsku sy lesers om nie mense op sigwaarde te oordeel nie. Ons doen dit nie! hoor die skrywer sy hoorders antwoord. Ook nie ons nie, antwoord ons. Ons is mos Christene!

Jakobus skets ’n tipiese situasie wat net so wel in ons eie gemeentes kan gebeur. Twee mense stap die kerk binne. Die eerste persoon het deftige klere aan. Hy is ’n ryk man. Die tweede persoon het ou klere aan. Hy is brandarm. ’n Boemelaar. Die gemeentelede wat ook sukkel met finansies sien – toe die ryk man instap – dadelik geld in die bank. Die arm man lyk soos iemand wat hulle eerder geld gaan kos as dat daar geld gaan inkom. Almal maak ’n ophef van die ryk man. Die arme moet eenkant gaan sit en niemand steur hulle aan hom nie. Jakobus interpreteer hierdie situasie. Ons diskrimineer. Ons is soos regters wat op grond van verkeerde oorwegings ’n vals uitspraak lewer. God het immers die armes uitgekies om ryk te wees in die geloof. Jakobus verwys hier na Jesus se woorde in Lukas 6: 20. Die skrywer gebruik ’n tweede argument. In die koninkryk van God geld die wet van liefde: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Diskriminasie is ’n oortreding van God se gebod. Diskriminasie is soos moord pleeg, sê Jakobus, en wie wil nou ’n moordenaar genoem word?

Ons het nie waarde op grond van ons voorkoms, ons besittings of wat ander van ons dink nie. Ons het waarde, want God het ons waardig gemaak. Mag ons mekaar dan ook waardig ag!

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia