Koue geloof

 

Jakobus 2: 14-26

 

Ons hou daarvan om te hoor wat God vir ons doen en gedoen het. Ons hou daarvan om te hoor dat God ons Skepper is, dat Hy ons en sy skepping versorg. Ons hou daarvan om te hoor dat Jesus Christus sy lewe vir ons gegee het en vir ons nuwe lewe moontlik gemaak het. Ons bely sonder om twee maal te dink dat God die Heilige Gees elke minuut van die dag by ons teenwoordig is. Ons geloof in God die Skepper, Jesus Christus en die Heilige Gees is die hart van ons Christenskap. As dit egter kom by wat ons vir God moet doen, luister ons nie meer so lekker nie. Dit is wonderlik om ons geloof in ’n God van genade en liefde te bely, maar minder aangenaam om genadig en liefdevol teenoor ander op te tree. Jakobus argumenteer in ons gelese gedeelte dat glo en doen bymekaar moet uitkom. Jy kan nie glo sonder om te doen nie en jy kan ook nie doen sonder die regte geloof nie.

Jakobus se voorbeeld tref. ’n Broer of suster, ’n medegelowige, het nie klere nie en ly dag vir dag honger. ’n Gemeentelid (dalk ek of jy?) sien die situasie raak en gee die mooiste geloofsgroet: Mag jy die Here se seën en liefde in jou lewe ervaar, gaan nou huis toe en trek jou warm aan. Eet genoeg en mag jy nie meer honger ly nie. Sonder ’n daad van uitreik, sonder ’n daad van liefde, is hierdie geloofsgroet belaglik. Dit help niks ons sê die mooiste woorde en al die regte geloofsdinge maar ons steek nie ons hande uit nie. Ons gee nie God se liefde nie. Dit beteken ons verstaan glad nie hoe God se liefde werk nie. God gee sy Liefde, Hy gee sy enigste Seun. Ons Here gee Homself. God se daad van Liefde behoort ons in beweging te bring. Ons is die boodskappers, die hande wat God se liefde aan ander moet bewys.

Geloof is soos ’n liggaam wat deur dade van liefde moet asemhaal. Sonder liefde is daar nie suurstof nie. Dit is koud en dood.

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia