Die krag van die tong

 

Jakobus 3: 1-3

 

’n Ou volksverhaal vertel van ’n jong man wat skinderstories oor ’n wyse man versprei het. Op ’n dag het hy besef dat hy verkeerd gedoen het. Hy het na die wyse man se huis gegaan om verskoning vir sy optrede te vra. Die wyse man het besef dat hierdie jong man nie werklik berou het oor sy daad of die gevolge daarvan besef nie. Sy woorde aan hom was: Ek sal jou vergewe, maar doen eers vir my ’n guns. Gaan huis toe, vat jou verekussing en sny dit stukkend. Gooi al die vere in die wind. Kom dan môre terug hierheen. Die jong man was dankbaar dat hy so lig daarvan afgekom het en het gedoen wat die wyse man gevra het. Die volgende môre is hy vroeg voor die wyse man se voordeur. Is ek nou vergewe? was sy eerste vraag aan die wyse man. Ja, het hy geantwoord, doen my egter net nog een guns. Gaan nou en kry al die vere weer bymekaar! Die jong man het dadelik die onmoontlikheid van hierdie taak besef. Die wyse man se woorde was: Verstaan jy nou? Jy kan vra dat ek jou vergewe vir wat jy my aangedoen het, maar net so onmoontlik as wat dit is om al die vere weer bymekaar te kry, so onmoontlik is dit om die gevolge van jou woorde uit te vee. Die skade is reeds gedoen!

Jakobus het die waardevolle les van hierdie storie in gedagte gehad. Hy praat met die wysheidsleraars in sy gemeenskap wat skinderstories oor mekaar versprei het om hul eie posisies te bevorder. Binne die gemeente het dit tot verdeeldheid en kliekvorming aanleiding gegee. ’n Mens sou tog meer wysheid van die wysheidsleraars verwag! Dieselfde geld sekerlik vir my en jou. Ons behoort mos die liefdesgebod te verstaan? Wees lief vir God en jou naaste. Ons is egter vinnig om ’n lekker sappige storie te versprei. Met dieselfde tong waarmee ons bid en God prys, beskinder ons ons naaste. Die skade wat ons aanrig, is onherstelbaar en onbeheerbaar. Dit is soos vere in die wind.

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia