Hemelse wysheid

 

Jakobus 3: 13-18

 

Slim wees en wys wees in nie dieselfde nie. Slim mense het baie boekekennis. Hulle weet baie en kan oor baie dinge gesels. Wyse mense weet baie van die lewe. Wysheid bring insig. En wie insig het, gaan op ’n verstandige manier met die lewe om. Vroue sal dit waardeer om te hoor dat die ou Hebreeuse en Griekse tekste na wysheid verwys as Hokma en Sofia onderskeidelik – albei selfstandige woorde in die vroulike vorm. In Spreuke 9: 1-6 ontmoet ons die Mevrou Wysheid. Sy dek haar tafel en nooi mense uit om aan te sit en van haar brood en wyn te geniet.

Jakobus sê ’n mens kan sommer sien wie al by Mevrou Wysheid se tafel aangesit het. Wyse mense sê nie net die regte dinge op die regte tyd nie, hulle tree reg op. Deur hul goeie gedrag sien jy dat hulle van haar brood en wyn geniet het. Wyse mense se dade kom by hul woorde uit. Volgens Jakobus gaan wysheid met ’n aantal deugde gepaard: vredeliewendheid, inskiklikheid, bedagsaamheid, medelye, onpartydigheid en opregtheid.

In die Nuwe Testament ontmoet ons Wysheid in lewende lywe. Jesus Christus kom na ons toe en kom wys vir ons God se hart van Liefde. Hy kom wys vir ons wat die wêreld nodig het. Die wêreld het deernis en omgee nodig. Die wêreld het mense nodig wat liefde leef. Die deugde wat Jakobus noem, is niks anders nie as liefde in praktyk. Hierdie wysheid wat Jesus ons leer, is broodnodig in hierdie wêreld. Al hoe ’n mens hierdie wysheid kan ontvang, is deur jou hart oop te maak en jou oë in te stel op God se manier van kyk.

Psalm 111: 10 sê: Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Neem dan vandag nog Mevrou Wysheid se uitnodiging aan en kom sit aan by haar tafel!

Dr Sanrie de Beer

Philadelphia