Moenie op prestasies roem nie

 

Galasiërs 6: 12-18

 

Hierdie gedeelte word deur die vertalers aan ons bekend gestel as die Laaste waarskuwing en groet. Dit wil voorkom asof die gemeente in Galasië aan wie Paulus skryf, ten einde laaste nog nodig het om te verstaan wat Paulus vir hulle probeer sê in die brief. Paulus wil beklemtoon dat hulle nie sin moet vind in hul menslike prestasies nie en dat die belang van menslike dade en wat hulle hier op aarde doen nie ewigheidswaarde het nie. Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van skuld en sonde te ontvang op grond van enige menslike prestasie, soos die besnydenis in hul geval.

Net soos die gemeente van Galasië wat roem op hul prestasies soos die besnydenis, roem ons op prestasies wat anders is as die besnydenis. As dit nie by die werk is dat ons dit doen nie, dan is dit by ons vriende en familie. Meestal gaan dit oor wat ons bereik het in ons lewe, soos ons kinders en hul prestasies, ons kleinkinders, sport en so meer. Moenie verkeerd verstaan nie – ’n mens mag trots wees op jou prestasies, maar ons moet nie ons hele wese daaraan koppel nie. Ons moenie in ons menslike prestasies sin soek nie. Daarom dat Paulus die gemeente hier aan die einde van die brief waarsku om nie op hul menslike prestasies te roem nie, maar op hul verbintenis met Christus en die lyding wat ons elke dag saam met Hom moet ervaar.

Daarom moet ons saam met Christus die littekens dra van sy lyding, en moet ons nie roem op wat ons reggekry het nie. Alle eer moet aan Jesus Christus toegeken word. Ons as gelowiges in Christus moet op Hom roem oor alles wat Hy vir ons gedoen het. Veral oor die feit dat Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê (Joh 3: 15). Mag ons ons nie elke dag instel op ons menslike prestasies nie, maar op die genade van God deur sy Seun Jesus Christus aan die kruis.

Ds Henk Labuschagne

Noordelike Pretoria