Hoeveel te meer sal God nie help nie?

 

Lukas 11: 5-13

 

Dit is nag, die huisgesin slaap, alles is stil... Skielik is daar ’n dringende geklop aan die deur. Wie kan dit wees? Is dit ’n noodgeval? Is daar gevaar? Nee, dit is een van sy vriende. ’n Vriend wat kom brood vra, geen noodgeval nie! Maar dit is al laat in die nag en nou gaan almal, ook die kinders, weer wakker wees. Hy moet opstaan, aantrek en die lampie aansteek voordat hy die deur kan oopmaak. Vies roep hy: Moenie my lastig val nie! Ek en my kinders is al in die bed!

Tog, vir sy vriend was dit wel ʼn noodgeval. Hy het onverwagte gaste gekry. Die gasvryheidsreëls van sy tyd het van hom verwag om vir hulle kos te gee, anders sal hy skande oor homself en sy huis bring. Maar hy het nie brood nie en daar is nie kafees of winkels waarheen hy gou kan gaan nie. Al wat oorbly, is om sy vriend te vra.

Hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis? Omdat Hy pas sy dissipels geleer het hoe om te bid. Nou leer Hy hulle meer oor wat gebed beteken. Die eenvoudige les is: As ons selfs in die nag na ons vriende kan gaan in ons nood, hoeveel te meer kan ons nie na God gaan in ons nood nie? God wat altyd daar is vir ons, vir wie ons dus te eniger tyd kan aanroep. God wat meer is as net ’n Vriend, wat ons Vader is, wat ons Alles is. Daarom sê Jesus: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry, en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

Watter wonderlike voorreg! Dit maak nie saak hoe groot ons nood is nie, waarmee ek en jy vandag worstel nie, ons Vader is daar, en Hy hoor ons in ons nood. Ons moet maar net vra.

Psalm 46, Totius-beryming

God is ’n toevlug in die nood, ’n rots wat altyd vas bly staan…

Ds Chris le Roux

Stellenbosch