Liefde vra selfs meer

 

Lukas 6: 27-38

 

Lukas 6: 27-38 bevat die tweede gedeelte van wat Jesus se "preek op die vlakte" genoem word. In die eerste gedeelte, Lukas 6: 20-26, maak Jesus ’n klompie seën- en ellende-uitsprake. Hier in die tweede gedeelte brei Jesus uit oor die radikale eise wat liefde aan gelowiges stel.

Die radikale eise vra soms baie meer as wat ’n mens bereid is om te gee. Dit kom van nature maklik om iemand wat ook vir jou lief is, lief te hê. Ook om aan iemand wat aan jou goed doen, goed te doen. Jesus wys daarop dat ook die sondaars dit doen. Van gelowiges word meer as dit verwag. Van gelowiges word gevra om, sonder om iets terug te verwag, hul vyande lief te hê, aan hulle goed te doen en aan hulle uit te leen. Daar word ook van gelowiges verwag om nie te oordeel en te veroordeel nie. Gelowiges spreek eerder vry. Om dit alles te doen, is baie moeilik en gebeur nie vanself nie.

Elke gelowige kan sekerlik daarvan getuig dat dit moeilik is om hierdie opdragte uit te voer. Dit klink byna onmoontlik om te doen. Selfs al is dit moeilik, beklemtoon Jesus die belang daarvan as Hy sê dat jy ander so moet behandel soos wat jy self behandel wil word.

Hoe gaan ons dit regkry om hierdie radikale liefde te leef soos Jesus vra? Die beste kans wat ons het, is om te onthou dat God radikale liefde aan ons bewys. Hy wat God is, bemoei Hom met mense wat nie net nietig is nie, maar ook dikwels sy vyande is. Nie net sorg Hy vir hulle nie, Hy vergewe hulle en spreek hulle keer op keer vry. Dit sluit elkeen van ons wat in Hom glo in. Dit gaan dus daaroor om barmhartig te wees teenoor ander omdat God barmhartig is teenoor jou. Kom ons gaan leef hierdie radikale liefde vandag uit deur iemand vry te spreek, deur liefde aan jou vyand te bewys en deur jou ander wang te draai.

Gebed

Here, help my om barmhartig te wees soos wat U barmhartig is. Amen.

Ds Colin Hertzog

Middelburg-Noord