Vergeef ons ons oortredings

 

Matteus 6: 12; Romeine 3: 12-18

 

Sedert die sondeval leef ons in ’n gebroke wêreld, ’n wêreld van mense wat mekaar al baie pyn besorg het. Ons gee die skuld vir ons pyn, die pyn van ons medemens, van ons volk, ons land, die wêreld, vir ander: die Russe, die Amerikaners, die Moslems, die ANC, apartheid, ’n onderwyser, ’n predikant, ’n huweliksmaat, ’n kind, ’n ouer, iemand anders. Ander kry die skuld, nie ek nie.

Die Bybel sê anders: Jy is die sondaar. In jou oog is nie net ’n splinter nie, maar ’n balk. Jy is medeskuldige, medesondaar. Jy en alle mense. Ons almal het gedwaal soos skape. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Rom 3: 12).

Nou bid ons: Here vergewe almal, maar bo alles, vergewe my. Here, help my regmaak wat ek verkeerd gedoen het teenoor U, maar ook teenoor ander mense. Here, ek vra dit van U want U alleen kan dit doen. Dan klink die blye evangelieboodskap: Ek het reeds deur my Seun Jesus Christus al jou sonde vergewe. Ek het reeds alles reggemaak wat jy verkeerd gedoen het teenoor My en alle mense.

Omdat ons mense is en bly, sondig ons voortdurend weer en is dit daarom nodig dat ons elke dag sal bid: Vergeef ons ons skulde. Ons bid nie net vergewe ons ons skulde nie, maar vergewe ons soos ons ons skuldenaars vergewe. Soos Jesus ons vergewe het en ons elke dag opnuut vergewe, moet ons ander vergewe. Nie net een maal nie, maar sewentig maal sewe. Om te vergewe, is nie altyd maklik nie. Hoe vergewe jy iemand wat jou so beroof het dat jy nie meer elke dag kos op jou tafel het nie, of iemand wat jou lewensmaat vermoor het? Uit eie krag is dit volkome onmoontlik, maar met die krag van God, die liefdevolle Vader, is dit wel moontlik.

Hierdie bede moet ons onophoudelik bid, want deur te leef in die hoop, verwagting en sekerheid dat God ons vergewe, leer ons die bereidheid om ander te vergewe.

Prof Bieks Beukes

Emeritus/Durban-Suid