Laat ons nie in versoeking kom nie

 

Matteus 6: 13 en 4: 1-11

 

Met die vorige bede het ons gebid: Vergewe ons ons skulde. Ons dink baie kere dat as Jesus ons sonde vergewe het, het ons God nie verder nodig nie. Ons dink ons kan dan op ons eie voete staan en self met eie krag alle versoekings weerstaan. Met hierdie bede leer Jesus ons om op ons knieë te bly. Hy leer ons dat God alleen ons van versoekings bewaar.

Hierdie bede is nie net vra vir bevryding van ’n paar klein versoekings wat soms op ons pad kom nie. Dit raak ons hele bestaan voor God en ons medemens. Versoekings dreig elke oomblik om ons ongehoorsaam te maak aan al God se gebooie. Die versoeking is elke oomblik groot om God nie lief te hê met ons hele wese nie maar eerder om onsself te dien en lief te hê. Die versoeking is elke oomblik groot om nie ons medemens lief te hê soos onsself nie, maar die lewe net te laat draai om onsself. Elke oomblik sondig ons.

Hierdie geneigdheid, meer, die daadwerklike loop van die pad in stryd met God se wil, is die werk van die satan, die Bose. Gelukkig hoef ons Satan nie met eie krag aan te vat nie, maar kan ons hom in die gebed vir God gee. Ons doodsvyande, ons eie sondige natuur, die bose magte, hou nie op om ons aan te val nie. Ons hoef hulle egter nie met eie krag aan te vat nie, maar kan hulle in die gebed vir God gee. En verder, deur Jesus Christus is hulle reeds oorwin. Die Bose is deur Jesus verslaan, oorwin, maar nog nie finaal gedood nie. Hy gaan nog steeds soos ’n brullende leeu rond en probeer om ons in versoeking, weg van God, te lei. Daarom moet ons steeds bid: Verlos ons van die bose.

Ons kan hierdie en al die ander bedes van die Ons Vader bid in die hoop maar ook met die sekerheid van die geloof: God sal en wil ons verhoor.

Die Heer regeer, Hy’t opgevaar, die dood kon Hom nie hou nie.

Sy almag sal ook óns bewaar – wie sal op Hom nie bou nie?

(Gesang 429: 1)

Prof Bieks Beukes

Emeritus/Durban-Suid