Jou wens gaan waar word

 

1 Konings 3: 5-14

 

Wie van ons het nie as kind gedroom oor ’n goeie fee wat vir ons drie wense gee nie? Net ’n droom vir ons, maar vir Salomo was dit nie net ’n droom nie. Die Here het na hom gekom en basies gesê: Vra net wat jy wil, en Ek sal dit vir jou gee! Watter geleentheid! Wat sou ons gevra het in so ’n situasie? Wat gaan Salomo vra? Dit is die vraag waaroor ons dadelik wonder.

Wanneer hy antwoord, is dit glad nie wat ons verwag het nie. Hy vra nie vir rykdom, roem of gesondheid nie, maar vir die vermoë om reg te regeer en die insig om die regte dinge te doen as koning. Hoewel dit nie so lyk nie, vra hy dus eintlik nie dat God vir hom iets moet gee nie, hy vra dat God iets vir hom moet doen. Hy vra dat God hom in elke situasie moet lei sodat hy die regte dinge doen, ten einde ’n koning te wees wat God behaag.

Die implikasie van hierdie klemverskil is groot. Ons kan dit so verduidelik: Gee vir my rykdom of so iets, dan kry ek dit eenmalig en gaan voort met my lewe. Maar lei my, dan is dit ’n proses wat my lewe lank voortgaan en my elke dag beïnvloed. Gee vir my, dan het ek iets anders. Lei my of werk in my, dan is ek iets anders!

Wat wil ons vir God vra? Om iets te hê of om iets te wees? Ja, ons het dieselfde geleentheid as Salomo, net nie so direk nie. Ons word genooi om te bid en dit sluit in dat ons ook mag vra. Die vraag is, is my gebede meer gee vir my-gebede, of is dit meer werk in my-, of lei my-gebede? Kom ons leer by Salomo dat ons gebede ook meer lei my- of werk in my-gebede sal wees.

Gebed

Lei my na waters waar daar rus is, lei my in die spore van geregtigheid, om u Naam ontwil. Amen.

Ds Chris le Roux

Stellenbosch