Bene word lewendig

 

Esegiël 37: 1-14

 

In Rwanda is daar ’n grafkelder in ’n kerk waar duisende beendere bewaar word, uitgestal op rakke vir besigtiging. Dit is die beendere van slagoffers van die volksmoord op die Tutsi-minderheid deur die Hutu-meerderheid. Esegiël moes ook so iets grusaam gesien het in sy visioen toe hy tussen die beendere deurloop.

Daar is nie ’n manier hoe hierdie klomp bene weer lewe kan kry nie, het hy waarskynlik by homself gedink, maar ewe diplomaties op God se vraag geantwoord: Net die Here weet of dit kan gebeur. Dan kry hy die vreemde opdrag om vir daardie dooie bene te preek en te sê God gaan weer lewensasem in hulle blaas. Dit is ’n interessante spel met die Hebreeuse woordjie wat gees, wind of asem kan beteken. So kry Esegiël die opdrag om met die wind te praat om vanuit die vier windstreke die asem in die bene te blaas. Wind uit vier windstreke, maar wat terselfdertyd heenwys na die Gees van God of dan God self, wat lewe gee.

Hy moes seker maar soos ’n gek gevoel het om vir ’n klomp dooie bene te preek! Maar hy het besef dit gaan nie oor die bene nie, dit gaan oor sy volk wat in moedeloosheid verval het tydens die ballingskap en eintlik geestelik dood was – ’n volk sonder hoop en vertroue op die Here. Hy besef dat daar net een manier is om weer moed, hoop en lewe te bring. Dit is die goeie nuus dat God nie van hulle vergeet het nie, al was hulle ver in ’n vreemde land; dat God weet van hul nood en Hom oor hulle wil ontferm.

So het ons ook nodig om voortdurend na die goeie nuus uit God se Woord te luister, nuus wat ons ook telkens weer met moed, hoop en lewenskrag sal vervul. Dit is die hoop dat ons God se nabyheid op die een of ander wyse sal ervaar in ons nood, die hoop op sy hulp, krag en leiding wanneer alles donker is in ons lewe. Daarom mag ons nooit ophou om sy Woord te verkondig en ’n boodskap van hoop, genade, lewe en lig te bring in ’n donker wêreld nie. Geseënd is hulle wie se lewe gevorm word deur hul hoop en nie deur hul seerkry nie!

Ds Chris le Roux

Stellenbosch