Die prys van sukses

 

1 Konings 11: 1-13

 

Ons onthou Salomo gewoonlik as die koning van vrede, wysheid en ongekende voorspoed. Hy was die derde koning van Israel. Saul was ’n mislukking, en sy opvolger, Dawid, was polities slim, maar in sy familielewe dwaas.

Daar was egter ook aan Salomo se lewe ’n skadukant: sy eiewaan, en vrouens. Salomo se sukses word die saad van sy mislukking. Salomo sluit diplomatieke bande met talle konings en trou met hul dogters. Hy laat hulle toe om in Jerusalem – in die paleis reg langs die tempel van die Here – altare en hoogtes vir hul afgode te bou, en hy bring selfs saam met hulle daar vir die afgode offers!

Daar is ’n prys vir sukses, en in Salomo se geval kondig die Here dan aan dat die magtige koninkryk wat hy opgebou het, juis die sigbare gestalte van sy sukses, na sy dood in twee sal skeur. Dit laat ’n mens onwillekeurig aan die Here Jesus se woorde in Markus 8: 36-37 dink: Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe?

En dit laat ’n mens wonder oor die waardes van ons tyd, wat so dikwels óns waardes ook word. Ons leef in ’n tyd waar die strewe na wen en sukses allesoorheersend is. Álles in die lewe word ’n kompetisie; vir álles in die lewe is daar nou ’n ranglys en ’n rekordboek. So leer ons ons kinders: Jý kan ook word soos die koning wat álles gehad het! In die proses word soveel mense die slagoffers van hul eie sukses – verwaand, selfgenoegsaam, koud en genadeloos. En diegene wat nié wen nie, word al meer uit die oog verloor, en al meer kwesbaar.

’n Gelowige onthou dat talente, geleenthede en sukses gawes uit die hand van die Here is. ’n Gelowige bly nederig en deel die genade en liefde van die Here met mense wat minder bevoorreg is.

Dr Wouter van Wyk

Sekretaris Kommunikasie