Is jy gereed vir die feesmaal?

 

Lukas 14: 15-24

 

’n Gelowige se toekomsverwagting word dikwels in Lukas voorgestel met die beeld van ’n feesmaal, soos dit ook hier die geval is. Om die gelykenis reg te verstaan, moet ons egter verstaan hoe so ’n feesmaal in daardie tyd verloop het. Die gasheer sou sy gaste vooraf uitnooi na die feesmaal wat in die laatmiddag of aand na afloop van die werkdag sou plaasvind. Maar omdat die mense nie horlosies of mikrogolfoonde gehad het nie, het hulle nie ’n spesifieke tyd afgespreek nie. Die gasheer het dan, sodra dit lyk of alles amper gereed is vir die gaste, sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet hulle moet nou kom, want alles is gereed vir hulle.

In Jesus se gelykenis het die mense wat verskonings aangebied het nie noodwendig bedoel om glad nie te kom nie; hulle was net van plan om laat te kom. Maar daarmee het hulle gewys dat hul gasheer se feesmaal nie vir hulle ’n prioriteit was nie. Meer nog, hulle het gewys dat hul gasheer nie vir hulle baie belangrik is nie. Daarom reageer die gasheer so heftig deur sy slaaf te vra om in die strate uit te gaan en almal wat hy teenkom, te nooi tot die huis vol is. Jesus wil met die gelykenis sê dat die aanbreek van God se koninkryk ’n prioriteit moet wees. Verder rig Hy ’n duidelike waarskuwing aan mense wat selfversekerd voel oor hul plekke aan die feestafel, aan mense wat glo hulle hoort in God se koninkryk.

Hierdie gelykenis wys dat die aanbreek van die koninkryk van God nie ’n ding van "eendag" is nie, dis iets wat nou reeds begin. Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem, sê die man vir Jesus. Ééndag... Nee, sê Jesus, gelukkig is die man vir wie God se koninkryk reeds realiteit geword het. Vir wie Jesus se voorbeeld reeds die riglyn van sy lewe geword het. Wie se lewe reeds verander is omdat hy verstaan wat Jesus se kruisdood vir hom beteken.

Dr Wouter van Wyk

Sekretaris Kommunikasie