Sout en lig

 

Matteus 5: 13-16

 

Sout gee smaak aan kos. Gelowiges doen vir die wêreld wat sout vir kos doen. Jesus het egter kommer daaroor dat die sout smaak kan verloor. Ons weet vandag dat, anders as wat in die gedeelte beweer word, sout nie smaakloos kan word nie. Die sout van destyds was egter nie suiwer soos die sout van vandag nie. Ander bymiddels in die sout kon wel sleg word en die smaak van die sout bederf. Bedorwe sout was waardeloos en moes weggegooi word – sommer op die pad waar mense daarop sou trap.

Wat ons in Jesus se woorde teëkom, is ’n waarskuwing. ’n Kerk wat nie meer kerk in die ware sin van die woord is nie, kan nie God se kerk wees nie. Gelowiges wat nie meer glo nie en nog net in naam gelowig is, of nie meer soos gelowiges gehoorsaam aan God leef nie, kan nie God se goedkeuring verwag nie.

Die beeld van die lig onder die maatemmer wil die belaglikheid aantoon van ’n gemeente of kerk wat in haarself gekeer is en net vir haarself of ter wille van haarself lewe. Watter mens sal ’n lamp opsteek net om dit weer weg te steek? Lampe hoort op staanders. Die ou Joodse huise het net een vertrek gehad. Een lamp kon met ander woorde die hele huis verlig, sodat almal in die huis kon sien. Die kerk kan nie anders kerk wees as dat dit ’n kerk is wat sendingwerk doen nie, maar dan sending deur die daad, sending deur ’n voorbeeldige lewe.

Die laaste vers lê die bedoeling van al die beelde wat gebruik is uit: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Die goeie werke waarvan hier gepraat word, is die geleefde en deurleefde evangelie. Dit is werke van mense wat na die wil van God vra. Dit is werke wat nie op die eer van die mens nie, maar op die eer van God gerig word.

Dr Gafie van Wyk

Kaapstad